Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Meyer se mesdood: Buurvrou vertel
Walter Meyer is na bewering by dié deur met 'n mes gesteek. Hy het hier glo aan sy wonde beswyk. Onder die tafel regs van die deur lê talle drankbottels. Bo-op die tafel lê sy dogtertjie, Carla (5), se skoene. Foto: Anena Burger

Die kunstenaar Walter Meyer se vyfjarige dogtertjie, Carla, het glo verwese op die toneel gestaan waar haar pa met ’n mes doodgesteek is.

Meyer se buurvrou het aan Netwerk24 vertel hoe sy haar na die toneel gehaas het waar sy beweer Sophia Meyer se familie aanhou drink het terwyl die nooddienste aan Meyer aandag gegee het.

Nancy Padmaker beweer Meyer se dogtertjie het glo eenkant gestaan en bitterlik gehuil. Padmaker sê sy het die polisie gevra om die kind weg te neem sodat sy nie haar pa sou sien nie. Padmaker, ’n verpleegster, sê sy en haar kinders, Lynette en Raymond, het eers besef daar is fout by die Meyers se huis toe hulle die ambulans se ligte gewaar. Sy het hulp aangebied, maar die nooddienste het haar ingelig dat Meyer dood is.

Sophia Meyer is op 22 Desember in hegtenis geneem en het reeds twee keer in die hof in Upington verskyn ná haar man se mesdood. Sy word van moord aangekla en is nog in aanhouding tot ’n formele borgtogaansoek op 5 Januarie aangehoor sal word. Padmaker beweer daar was gereeld luidrugtige rusies by die Meyers se huis. Die rusies het glo oor geld en Sophia se beweerde buite-egtelike verhouding gegaan. “Sy (Sophia) het eenkeer gegil: ‘Jy betaal net vir jou kind geld oor, wat van Boeta?’ ”

Sy sê Meyer het erken dat hy ’n drankprobleem het. “Dit was soms so erg dat hy nie kon opstaan nie, maar hy was ’n wonderlike, sagte mens."
Walter Meyer se esel staan nog in die kamer by Suzette Kriel se huis. Teen die esel is 'n prentjie van een van Vincent van Gogh se selfportrette geplak en ook 'n foto van een van die laaste twee skilderye wat Meyer geverf het. Foto: Anena Burger

Padmaker sê Walter Meyer het ’n hegte band met Carla gehad en het die aand van die moord gekom om haar en nog van sy besittings te kom haal. “Ek sal nooit daardie prentjie uit my kop kry nie van toe Walter hier aankom en Carla na hom hardloop, haar arms om sy nek gooi en skree: ‘Pappa, Pappa!’ ” sê Nancy terwyl sy die trane wegvee. “Hy het gesê hy het ’n plekkie 30 km buite die dorp gekry en dat hy weer lus was om te werk,” sê Raymond.

Suzette Kriel het Walter Meyer sedert September in haar huis versorg. By haar het hy 'n veilige hawe gevind waar hy kon werk. Foto: Anena Burger

Die Padmakers sê Sophia het Meyer en Carla in September uit die huis gegooi. Meyer het ’n veilige hawe by ’n vriendin, Suzette Kriel, gevind. Sy het haar beskeie huis omskep sodat Meyer sy werk hier kon voortsit. Kriel, wat self ’n armoedige bestaan voer, het Meyer sedert September versorg. “Ek het gesorg dat hy drie etes ’n dag kry en saam met hom aan tafel gesit om te kyk dat hy eet.” Kriel raak aangedaan as sy oor Meyer praat. “Ek het met hom gepraat en wou daar wees om te luister as hy wou praat.” Sy sê Meyer het erken dat hy ’n drankprobleem het. “Dit was soms so erg dat hy nie kon opstaan nie, maar hy was ’n wonderlike, sagte mens.”

Dokkie oor Walter Meyer

'n Dokkie oor dié bekende landskapskilder het intussen begin "trend" op YouTube ná sy skokdood voor Kersfees. Die dokkie is in 1995 vervaardig voordat Meyer met Sophia getroud was.

Meer oor:  Sophia Meyer  |  Walter Meyer  |  Upington  |  Moord  |  Polisie  |  Hof  |  Misdaad  |  Kunstenaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.