Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Meyiwa-familie het volle vertroue in AfriForum se ‘bulhond’

Die vermoorde Senzo Meyiwa se broer, Sifiso, het volle vertroue in AfriForum se private vervolgingseenheid om die raaisel rondom dié voormalige Bafana Bafana-kaptein se dood op te los.

Senzo Meyiwa se broer, Sifiso, sê hy het volle vertroue in AfriForum se private vervolgingseenheid om sy broer se moord op te los. Foto: AfriForum

“Die Meyiwa-familie is ná al die jare steeds in die duister oor wat op 26 Oktober 2014, die dag van my broer se dood, gebeur het,” sê Sifiso.

Senzo, wat onder meer vir Bafana Bafana en Orlando Pirates as doelwagter uitgedraf het, is in ’n rooftog by ’n huis in Vosloorus aan die Oos-Rand doodgeskiet. Hy was tydens die voorval saam met sy vriendin, Kelly Khumalo, haar ma, sussie, dié se vriend en twee van die paartjie se vriende by die huis. Niemand is nog in verband met die moord aangekeer nie.

“Ek is ’n groot aanhanger van adv. Gerrie Nel se werk en het hom oor die jare heen in die hofsake van Oscar Pistorius en Jackie Selebi gevolg. Ek weet waartoe hy in staat is. Gerrie is soos ’n bulhond wat nie sommer los nie. Hy is perfek vir die kruisondervraging van die getuies oor wat daardie dag gebeur het,” sê Sifiso.

AfriForum het Woensdag op ’n nuuskonferensie in Centurion aangekondig dat Nel, hoof van die burgerregteorganisasie se private vervolgingseenheid, die nasionale vervolgingsgesag (NVG) namens die Meyiwa-familie versoek het om Senzo se dood formeel te ondersoek.

Die NVG moet die saak na ’n landdros verwys sodat ’n doodsondersoek op ’n informele of formele wyse kan plaasvind.

Nel sal dan die geleentheid kry om die getuienis voor die landdros te toets en getuies onder kruisverhoor te neem.

Tydens ’n informele doodsondersoek kyk ’n landdros na die verklarings en doen dan ’n bevinding. In ’n formele doodsondersoek word getuies geroep om voor ’n landdros te getuig. Wanneer die landdros bevind dat die oorledene vermoor is, moet die ondersoek teruggaan na die NVG vir vervolging.

“My broer se dood is soos ’n nagmerrie wat elke dag aanhou. Die polisie kon niks met hul ondersoek uitrig nie. My broer se kinders vra nou nog wat met hul pa gebeur het. ’n Geregtelike ondersoek sal die antwoorde gee wat ons tot dusver ontwyk, en berusting vir die familie bring,” sê Sifiso.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, praat Woensdag op ’n nuuskonferensie oor die dood van Senzo Meyiwa.Foto: AfriForum
Gerrie Nel, hoof van AfriForum se private vervolgingseenheid, het namens die Meyiwa-familie die nasionale vervolgingsgesag versoek om ’n formele ondersoek na die dood van Senzo Meyiwa te doen. Foto: AfriForum

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê: “Die feit dat die Meyiwa-familie AfriForum genader het om Senzo se dood te ondersoek wys dat mense van verskillende agtergronde nie vertroue in die strafregstelsel het nie.”

Volgens Kriel is die aansoek om so ’n ondersoek nie ongewoon nie. “As ’n mens kyk na die onvermoë van die polisie om ná vyf jaar die skuldiges aan die pen te laat ry, is dit net logies om ’n geregtelike doodsondersoek by die NVG te eis,” sê Kriel.

“So ’n ondersoek is nodig sodat die agt mense wat gedurende Senzo se dood in die huis was, in ’n hof onder kruisondervraging geneem kan word. Dit sal die landdros help om uit te vind wie vir sy dood verantwoordelik is,” sê Kriel.

Meer oor:  Afriforum  |  Bafana Bafana  |  Orlando Pirates  |  Senzo Meyiwa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.