Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Meyiwa se familie wil hê polisie moet baasbrein vastrek

Die familie van die Bafana Bafana-doelwagter Senzo Meyiwa het hul frustrasie Vrydag uitgespreek omdat die nasionale vervolgingsgesag (NVG) nog nie inligting oor die vermeende baasbrein van sy moord voor die hof gedaag het nie.

Muzikawukhulelwa S’Tembu Sibiya, Bongani Sandiso Ntanzi, Mthobisi Prince Mncube, Mthokoziseni Ziphozonke Maphisa en Sifokuhle Sifiso Nkani Ntuli het Vrydag voor landdros Hans Havenga in die landdroshof in Boksburg in verband met Meyiwa se moord verskyn.

Hulle staan ook tereg op aanklagte van poging tot moord, roof met verswarende omstandighede en die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

Adv. Gerrie Nel verwag dat die polisie binnekort die baasbrein agter Meyiwa se moord sal aankeer en voor die hof daag Foto: Reuters

Sibiya, Mncube en Maphisa het Vrydag om regshulp gevra. Hulle het vroeër aan die hof gesê dat hulle nie enige regsverteenwoordiging benodig nie en ontken dat hulle by die saak betrokke was.

Mncube het die landdros in ’n stadium onderbreek en gesê hy is nie Meyiwa se moordenaar nie. Hy het gesê dit is nie regverdig dat hulle nie die hof mag toespreek nie, maar Havenga het dit duidelik gestel dat hy dit nie sal toelaat nie omdat hulle regsverteenwoordiging het.

Die saak is uitgestel tot 5 Maart 2021 vir die finale aanklagte en dat verwante dokumentasie afgehandel kan word voordat dit na die hooggeregshof verwys word.

Sifiso, die broer van Meyiwa, het buite die hof aan die media gesê hy dink daar is ’n rede vir die vertraging van die saak.

“Ek glo in God en kan dus nie sê dat God ons vertraag nie. Ek dink daar is ’n rede vir die vertraging. Daar is meer inligting wat aan die polisie en AfriForum gegee sal word. Geregtigheid sal geskied,” het hy gesê.

Sifiso het bygevoeg dat die familie verwag het dat inligting rondom die baasbrein van die moord bekend gemaak sou word, maar dit het nie gebeur nie.

Hy het gesê die familie maak daarop staat dat “geregtigheid uiteindelik sal seëvier, al neem dit ’n jaar”.

Adv. Gerrie Nel van AfriForum se eenheid vir private vervolgings het gesê hy dink die polisie beskik oor voldoende inligting om die baasbrein in hegtenis te neem. “Wat ek kan onthul, is dat ek deur die polisie ingelig is, en dat ek kontak met die NVG gehad het. Soos ek hier staan, het ons meer bewyse teen die meesterbrein as wat ons voorheen gehad het. Dis ’n feit. Die polisie het meer bewyse gekry wat die saak vir die inhegtenisneming van die baasbrein versterk.”

Nel het gesê hy verwag dat die polisie die persoon binnekort in hegtenis sal neem en voor die hof sal daag.

- News24

Meer oor:  Polisie  |  Bafana Bafana  |  Senzo Meyiwa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.