Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Min nog in W-Kaap vir taxigeweld vervolg

Met die taxi-bloedbad wat in die Wes-Kaap woed en grootliks die openbare vervoerstelsel tot stilstand laat knars het, is daar tot dusver nog net nege mense aan taxi-verwante misdrywe skuldig bevind.

’n Bushalte in Kaapstad nadat taxigeweld die dienste van minibustaxi’s feitlik tot stilstand gebring het. Foto: Facebook

Dié inligting het Dinsdag in ’n aanlyn inligtingsessie van Alan Winde, Wes-Kaapse premier, oor die voortslepende taxigeweld in Kaapstad en dele van die Boland uitgekom.

Yasir Ahmed, hoofdirekteur van die Wes-Kaapse departement van vervoer en openbare werke, het onder meer gesê daar is vanaf 2018 tot op hede 159 mense vir taxiverwante misdrywe in hegtenis geneem.

Van hierdie 159 is 12 sedert Vrydag 16 Julie in hegtenis geneem. Dit sluit in die twee mans wat Maandagoggend deur metropolisiebeamptes in hegtenis geneem is nadat daar naby die Langa-taxistaanplek op ’n Golden Arrow-bus geskiet is.

Van al hierdie sake is daar tans net 65 op die hofrol in die provinsie.

Maar volgens lt.genl. Thembisile Patekile, nuut aangestelde polisiehoof van die Wes-Kaap, word vordering gemaak. Hy het Dinsdag gesê ’n multidissiplinêre benadering word deur wetstoepassingsbeamptes, insluitende die polisie, gevolg.

Patekile het gesê 12 mense is sedert die naweek in hegtenis geneem en daar is op 14 vuurwapens beslag gelê. Hierdie inhegtenisnemings sluit volgens hom mense van die twee strydende taxi-organisasies, Cata en Codeta, in.

Die mense agter die taxigeweld is skollies.
Alan Winde

Hy sê dat van die vuurwapeneienaars hul vuurwapenlisensies kon wys, maar dat die polisie steeds op die vuurwapens beslag gelê het. Al daardie vuurwapens is volgens Patekile vir ballistiese toetse gestuur om vas te stel of dit met enige taxiverwante skietvoorvalle verbind kan word.

Winde het diegene agter die afgelope tyd se taxigeweld as skollies beskryf. Hy sê daar moet sterk opgetree word en hulle moet in hegtenis geneem word.

Hy sê daar is sowat 120 000 mense in die Kaapse metropool wat geraak word deur die taxigeweld. Hulle kan nou ook nie meer bus ry nie omdat die Golden Arrow-busse aangeval word. “Daar is dieselfde storie met treine omdat Metrorail net ’n beperkte getal treine het wat net sekere gebiede bedien.”

Alan Winde Foto: Argief
Meer treine

Winde sê hy het Richard Walker van Metrorail gevra of meer treine beskikbaar gestel kan word, veral in die gebiede wat deur die taxigeweld geraak word.

Volgens Albert Fritz, LUR vir gemeenskapsveiligheid, is die geweldenaars terroriste wat die inwoners van die provinsie terroriseer.

Daylin Mitchell, LUR vir vervoer en openbare werke, het gesê dis net ’n handjievol misdadigers wat die mense van die provinsie gevange hou.

Daar was volgens hom volgehoue pogings om vrede te bewerkstellig, maar tevergeefs.

“Maar ons kan nie langer terugsit en kyk hoe onskuldige mense seer- en doodgemaak word nie. Ons kan nie.”

Daylin Mitchell

Mitchell het weer gesê dat hy van die taxiroetes gaan toemaak en dat hy alles in sy vermoë sal doen om pendelaars en ander padgebruikers veilig te hou.

“Ons moet sorg dat die misdadigers verantwoordbaar gehou word vir die sterftes. Ons kan dit nie langer toelaat nie.”

Ahmed het op sy beurt gesê hulle het ná ’n vergadering op 8 Julie met Santaco, Cata en Codeta standpunt ingeneem oor die misdadige optrede van sommige lede van dié taxi-organisasies. Hy sê daar is ook interne struwelinge oor beheer in die organisasies.

Die twis tussen Cata en Codeta handel oor die B97-roete tussen Bellville en Mbekweni.

Ahmed sê hulle het die taxi-organisasies laat weet dat hulle die roete en taxistaanplekke sal toemaak indien die geweld nie end kry nie.

Die taxi-organisasies het tot 16 Julie kans gehad om redes aan te voer oor hoekom die roetes en staanplekke nie toegemaak moet word nie.

Ahmed het gesê dat hulle ook met hul Gautengse eweknieë, die Kaapstad-metro en hul regsverteenwoordigers vergader vir advies oor hoe hulle die hooggeregshof kan nader om die taxi-organisasies wat lid van Santaco is, onder administrasie kan plaas.

Van die ingrypings waarop besluit is, is om onder meer befondsing aan Santaco op te skort.

Verskeie pogings is aangewend om met Cata en Codeta te praat, maar daar is nie op telefoonoproepe gereageer nie.

Meer oor:  Alan Winde  |  Wes-Kaap  |  Roetes  |  Taxigeweld  |  Inhegtenisnemings  |  Treine
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.