Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Min vonnisse vir trein-misdaad kwel Zille

Helen Zille, Wes-Kaapse premier, is bekommerd omdat die getal inhegtenisnemings en vervolgings wat verband hou met die vlaag brandstigtings van Metrorail-treine so laag is.

Zille het Woensdag die metropolisie-opleidingsakademie in Observatory besoek waar 71 bykomende wetstoepassers tans deur die stad opgelei word om spoorweg-infrastruktuur te beskerm en pendelaars te beveilig.

Helen Zille, premier van die Wes-Kaap, op besoek aan die metropolisie-opleidingsakademie in Observatory. Foto: Verskaf

“Die brandstigting van treine neem toe, maar die polisie het slegs twee inhegtenisnemings gemaak en nog nie een saak in tien jaar suksesvol vervolg nie,” het Zille gesê.

Volgens die premier is dié brandstigting niks minder as “ekonomiese sabotasie” nie, en moet misdaadintelligensie wat tot dusver gebrekkig was, onmiddellik verbeter word.

“Daar is 30 forensiese ondersoeke, maar almal is as ‘onnaspeurbaar’ verklaar’ – met geen uitkoms nie.”

Zille sê sy vergader volgende week met die polisie en justisie om onder meer die redes vir die gebrekkige strafregtelike suksesse vas te stel.

Die beamptes wat tans opgelei word, is deel van ’n memorandum van ooreenkoms wat deur die provinsiale regering, die Kaapse metroraad en Prasa gesluit is. Die 71 wetstoepassers sal volgende maand ontplooi word.

’n Totaal van 100 spoorwegwetstoepassers sal volgens die ooreenkoms teen ’n koste van R48 miljoen per jaar opgelei word.

Zille sê die stads- en provinsiale regering het buite hul grondwetlike mandate gegaan om R16 miljoen elk by te dra vir die inisiatief, maar Prasa het nog nie hul R16 miljoen betaal nie.

Die spoorwegwetstoepassers wat by die metropolisie-opleidingsakademie in Observatory opgelei word. Foto: Verskaf

Die opleidingsinisiatief dui volgens Zille op die stad en provinsiale regering se verbintenis om pendelaars te beskerm en die stad se belangrike spoorweginfrastruktuur te beveilig.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, het gesê die stad se spoordienste en die pendelaars wat dit gebruik, is onder beleg. “Net verlede week is een persoon vermoor en verskeie ander beseer nadat hulle beroof en van die trein afgegooi is, terwyl daar vroeër vanjaar talle brandstigtingvoorvalle was. Die spoorwegeenheid is nou broodnodig.”

Brett Herron, burgemeesterskomiteelid vir vervoer en stedelike ontwikkeling, sê treinpendelaars in Kaapstad is van die kwesbaarste in die samelewing en kan nie bekostig om ander vervoermiddels te gebruik nie. “Ons pendelaars verdien ’n diens wat veilig, betroubaar en waardig is.”

Die brandskade aan Metrorail-treine beloop tot dusver meer as R500 miljoen, met 148 treinwaens wat sedert Oktober 2015 in 32 voorvalle aan die brand gesteek is.

Prasa benodig 88 treinstelle om ’n doeltreffende diens in Kaapstad te lewer, maar tans is daar minder as 40 weens brandstigting, kabeldiefstal en vandalisme.

Meer oor:  Metrorail  |  Prasa  |  Helen Zille  |  Brandstigting  |  Treinaanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.