Die minister van vervoer, Fikile Mbalula, en die Wes-Kaapse LUR vir vervoer, Bonginkosi Madikizela, sal Donderdag met strydende taxigroepe in die Paarl vergader waar taxigeweld sedert die begin van die maand reeds ses lewens geëis het.

Bonginkosi Madikizela, Wes-Kaapse LUR vir vervoer. Foto: Lindile Mbontsi
Madikizela sê hy en Mbalula gaan hulle vergewis van die probleme in die gebied en sal ook die families van die slagoffers ontmoet.
“Ses mense is die afgelope maand onder ons neuse dood. Die geweld kan nie onverpoos voortgaan nie,” het Madikizela gesê.
Volgens die LUR het die geweld onder hul aandag gekom ná die dubbele moord Dinsdagmiddag in Mbekweni.
Madikizela sê die gemeenskap het gevra hy en die nasionale minister moet ingryp om die voortslepende aanvalle te stop.
“Daar is baie gerugte en bespiegeling oor wat die geweld aanvuur, maar ons wil eerstehandse inligting kry oor wat daartoe aanleiding gegee het.”
Mbalula het in ’n verklaring gesê sewe taxi-operateurs is sedert die begin van die jaar in die gebied vermoor.
Die minister sê hy gaan met die polisie samesprekings voer en met lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxi-vereniging, asook die Boland- en die Paarl Alliance-taxi-vereniging, praat.
Intussen het sers. Noloyiso Rwexana, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, gesê die polisie ondersoek ’n dubbele moord ná die taxi-skietery wat Dinsdag omstreeks 12:45 in Pinzistraat in Mbekweni plaasgevind het.
Volgens inligting het onbekende verdagtes glo op ’n Toyota Quantum met twee insittendes losgebrand.
“Twee mans van in die 30 is in die koeëlreën dood. Die omstandighede rondom die voorval word ondersoek en speurders volg alle inligting op,” het Rwexana gesê.