Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Minister, polisiehoof besoek ‘gyselaarkerk’

Bheki Cele, minister van polisie, en genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, het Sondag leiers van die kerk aan die Wes-Rand besoek waar ’n gyselaarsdrama afgespeel het waarin vyf mense dood is.

Cele en Sitole is ingelig oor die leierskapstryd wat die afgelope paar jaar by die International Pentecostal Holiness Church in Zuurbekom afspeel.

“Die vergadering het ’n beter kommunikasielyn tussen die kerk en die polisie tot stand gebring en daar is besluit om dit voortdurend te handhaaf. ’n Manier is ook gevind waarop die polisie en die kerk kan saamwerk om die veiligheid van gemeentes en eiendom van die kerk te verseker,” lui ’n verklaring wat namens Cele uitgereik is.

Volgens die kerk is daar reeds sedert 2016 onmin in kerkgeledere.

Susan Cilliers het vroeër berig dat ooggetuies vertel het die aanvallers het omstreeks 01:30 Saterdagoggend by die kerk opgedaag. Hulle was glo as polisiemanne vermom en het in ’n BMW en twee Toyota Quantum-bussies opgedaag. Hoewel hulle toegang geweier is, het hulle by ’n ander ingang by die gebou ingekom.

Brig. Vish Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, sê verskeie afdelings van die polisie, asook lede van die Suid-Afrikaanse Weermag, het omstreeks 03:00 Saterdagoggend gereageer op berigte van ’n skietery en ’n gyselaarsituasie by die kerk.

Die polisie het afgekom op die lyke van vier mense wat geskiet en in ’n kar verbrand is, asook op die lyk van ’n veiligheidswag wat in sy kar doodgeskiet is nadat hy oënskynlik op die klag (oor die skietery) gereageer het. Volgens Naidoo het die polisie meer as 40 verdagtes in hegtenis geneem. Ses van die verdagtes is met beserings na ’n hospitaal geneem.

Lede van die weermag en polisie by die Pentecost Holiness Church in Zuurbekom, Westonaria. Foto: Tebogo Letsie

Van die mense wat in hegtenis geneem is, is lede van die polisie en weermag, asook van die Johannesburgse metropolisie en mense wat vir die departement van korrektiewe dienste werk.

Naidoo het benadruk dat die ampsdraers nie aan diens was nie, maar op die toneel was weens hul betrokkenheid by die kerk. Die polisie het beslag gelê op meer as 34 vuurwapens. Die polisie het vroue en kinders gered wat op die perseel woon en as gyselaar gehou is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.