Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Minister sloer met wet oor DNS

Terwyl die getal aangemelde seksuele misdrywe volgens die jongste polisiestatistieke met 4,6% toegeneem het, sloer die minister van polisie glo om ’n konsepwysigingswetsontwerp te onderteken wat die polisie in staat sal stel om weer die DNS-inligting van veroordeelde misdadigers in te samel.

Danksy ’n wysiging van die Strafproseswet het die polisie sedert 2014 die DNS-inligting van 67 730 veroordeeldes ingesamel. Die polisie sê sy databasis was in 2018 die grootste in Afrika en die tiende grootste ter wêreld.

Maar in 2017 het die spertyd verstryk wat die polisie gemagtig het om die DNS in te samel van mense wat skuldig bevind is aan sogenaamde bylae 8-misdade, soos moord, verkragting, ontvoering en terreur. Gevolglik is daar nou al 46 727 sulke misdadigers in tronke van wie die polisie geen DNS-gegewens het nie.

‘Regering sloer en misdadigers is vry.’

Andrew Whitfield, DA-LP en die party se woordvoerder oor polisie, het aan Rapport gesê die wetgewing lê op Bheki Cele, minister van polisie, se lessenaar. Dit moet net onderteken word sodat dit in die parlement ter tafel gelê kan word.

Dié wet laat die polisie toe  om DNS-inligting in te samel van mense wat aan die ergste misdade skuldig bevind is. “Maar elke jaar wat hul DNS nie ingesamel kan word nie, is daar net meer misdadigers.”

Hy sê onder die 46 727 misdadigers wie se DNS nie sedert 2017 verkry is nie, is van hulle moontlik al uit die tronke vrygelaat.

Cele sê nou hy wil eerder die DNS-monsters van álle Suid-Afrikaners laat insamel vir ’n nasionale databasis. Die DA sê Cele se plan hiervoor is ongrondwetlik, verregaande, onbekostigbaar en onnodig.

Intussen is die polisie ’n belangrike instrument kwyt om misdadigers wat weer oortree, deur hul DNS te identifiseer.

Whitfield het Donderdag in ’n brief aan Cele geëis dat hy dringend die konsepwet onderteken. “Terwyl die regering sloer, word misdadigers wat potensieel weer misdaad kan pleeg, vrygelaat, en die polisie het geen manier om te weet as hulle weer oortree nie.”

Prof. Rudolph Zinn van Unisa se departement polisiepraktyk sê die DNS-databasis is doeltreffend omdat baie misdade gepleeg word deur mense wat voorheen aangekeer is. Navorsing in Brittanje wys dat meer as 60% van mense wat tronk toe is vir geweldsmisdade weer vir ’n soortgelyke misdaad opgesluit word binne drie jaar nadat hulle vrygelaat is.

Zinn sê afgesien van die DNS-databasis, sou dit die polisie se werk baie makliker gemaak het as hulle vrye toegang gehad het tot die departement van binnelandse sake se databasis van vingerafdrukke.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.