Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Ministers: Mans moet introspeksie doen oor SA geweld

Suid-Afrikaanse mans behoort introspeksie te doen om te verseker dat vroue en kinders veilig voel, het Ronald Lamola, minister van justisie, Dinsdagaand op ’n mediakonferensie in die parlement gesê.

“Ten opsigte van geslagsmisdade moet mans standpunt inneem. Ons het ’n verantwoordelikheid om te verseker dat vroue en kinders veilig voel.

“Ons doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaanse mans om introspeksie te doen en hul rol te speel sodat die vroue in die samelewing nie alleen veilig voel nie, maar ook geliefd en dat almal van ons omgee,” het Lamola gesê.

Sy gesamentlike mediakonferensie met Maite Nkoana-Mashabane, minister in die presidensie belas met vroue, sowel as Hendrietta Bogopane-Zulu, adjunkminister van maatskaplike ontwikkeling, het gekom ná die onlangse moorde op onder andere Uyinene Mrwetyana (19), ’n eerstejaarstudent aan die Universiteit van Kaapstad, en Leighandre “Baby Lee” Jegels, ’n Suid-Afrikaanse bokskampioen.

Uyinene Mrwetyana, UCT student
Uyinene Mrwetyana. (Supplied)
Son
Leighandre (Baby Lee) Jegels (25), wat verlede Vrydag doodgeskiet is.

Pres. Cyril Ramaphosa het Dinsdag die wetstoepassingsowerhede geloof vir die vinnige inhegtenisnemings in dié moordsake.

Die lyk van die 14-jarige Janika Mallo is ook die afgelope naweek in ’n vlak graf in Heinz Park naby Mitchells Plain gevind.

Op ’n vraag het Lamola gesê hy kan nie in dié stadium sê of die regering oop is vir ’n moontlike referendum om die doodstraf terug te bring vir geslagsgebaseerde misdade nie. Dit is iets wat verder bespreek kan word. Hy en Nkoana-Mashabane het saamgestem dat sekere kwessies rondom geslagsgebaseerde geweld Woensdag vir bespreking in die kabinet geopper sal word.

Volgens Lamola is die departement oop vir wysigings aan die Strafproseswet om te verseker dat dié “plaag” doeltreffend die hoof gebied word. Hy het ook gesê daar moet streng opgetree word teen mans wat beskermingsbevele teen hulle minag.

Nkoana-Mashabane het die situasie as ’n “nasionale noodgeval” bestempel. Volgens haar is meer as 30 vroue in Augustus deur hul lewensmaats vermoor. Dit is egter onbekend hoe dit met vorige maande vergelyk.

Volgens haar bly geweld teen vroue en kinders ’n groot kommer vir die regering.

Ons het genoeg gehad. Ons is moeg en siek om te hoor hoe vroue vermink en vermoor word in hul huise, in hul kerke, in die poskantoor
Maite Nkoana-Mashabane, minister in die presidensie

Sy het verwys na suksesse wat die polisie se eenhede vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (FCS) behaal is. Tussen 1 Julie 2018 en 31 Desember 2018 het die howe altesame 1 357 oortreders gevonnis. Dit het onder meer 371 lewenslange vonnisse en gesamentlike tronkstraf van meer as 4 629 jaar ingesluit.

“Alle Suid-Afrikaners word aangemoedig om met wetstoepassingsowerhede saam te werk om misdadigers te identifiseer wat voortgaan om afskuwelike misdade in ons gemeenskappe te pleeg en misbruik van ons oues, vroue en kinders te maak.”

Sy het gesê mans en vroue moet opgevoed word om stereotipes rondom geslag, houdings en oortuigings te verander “wat geweld en skadelike konstruksies van manlikheid” kondoneer.

“Ons het genoeg gehad. Ons is moeg en siek om te hoor hoe vroue vermink en vermoor word in hul huise, in hul kerke, in die poskantoor soos hulle in die strate loop... vroue behoort deur hul menseregte te voel dat hulle gelyke Suid-Afrikaners is en dat hulle beskerm sal bly,” het sy gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.