Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Minstens 40 honde op een slag aan Wes-Rand vergiftig

Minstens 40 honde is Woensdag in die vroeë oggendure in Florida vergiftig in een van die ergste voorvalle van vergiftiging waarmee die Dierebeskermingsvereniging (DBV) aan die Wes-Rand tot nog toe te make gehad het.

“Die DBV het daagliks met die vergiftiging van diere te doen, maar om soveel honde in dieselfde buurt in ’n bestek van ’n paar uur te verloor is iets waarmee ons nog nie te doen gehad het nie,” sê Mandy Cattanach, bestuurder van die DBV in Roodepoort.

Volgens Cattanach het die DBV Woensdag oproepe ontvang van inwoners in Janet-, Maud- en Cinderellastraat en 6de Laan wat sê hul honde vrek en hulle weet nie wat aangaan nie. “Ons inspekteurs neem nou verklarings by inwoners in dié strate af. Dit wil voorkom of vergiftigde grondboontjies gebruik is om die honde, wat almal in die voorste erwe van hul eienaars se huise was, te vergiftig. Die getal dooie diere kan selfs meer wees, want voëls en katte sal ook die grondboontjies eet,” sê Cattanach.

Cora Bailey, stigter van die organisasie Community Led Animal Welfare (Claw), raai inwoners aan om hul diere snags in die huis of agter in hul erwe te laat slaap. “Honde moet uit voortuine gehou word en moet eerder in die huis toegemaak word. Misdadigers is huiwerig om by ’n huis in te breek waar die hond die eienaars kan waarsku.

“Die polisie moet ook drastiese stappe doen om te verhoed dat verbode plaagdoders, wat vrylik beskikbaar is, verkoop word. Dié gif word onder name soos Temik, Aldicarb, Halipirim en Two Step verkoop en is nie duur nie. Dit word algemeen gebruik om rotteplae te beveg.

“ ’n Kind kon van die vergiftigde grondboontjies opgetel en geëet het. Ek sidder as ek daaraan dink,” sê Bailey.

Johan Potgieter woon in Janetstraat en Snowy, die gesin se labrador, is vergiftig. “Gelukkig waag Odus, my klein Jack Russell, dit nooit van my voorstoep af nie, anders sou ons al twee ons honde verloor het. My seuns huil van gister af onophoudelik oor Snowy. Ek hoop die polisie vang die skuldiges,” sê Potgieter.

Volgens Shiraz Kraft, lid van die Florida-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), is polisiebeamptes besig om veiligheidskameras in die strate waar die honde vergiftig is, na te gaan. “Daar is beeldmateriaal van twee mans wat in die vroeë oggendure iets oor die mure en heinings van huise gooi. Daar is ook dieselfde aand by twee motors by verskillende huise in die buurt ingebreek. Voetpatrollies deur vrywilligers is deel van ’n aksieplan deur die GPF om ’n soortgelyke voorval te voorkom,” sê Kraft.

  • ’n Vergadering sal Vrydag om 09:00 by die polisiekantoor in Florida gehou word waar inwoners wat geraak word inligting oor die vergiftiging met die DBV en die polisie kan deel om die skuldiges te probeer opspoor.
Meer oor:  Florida  |  Wes-Rand  |  Honde  |  Vergiftig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.