Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Misdaad in NW neem af, maar vrae oor veediefstal

Die afname van byna 16% in veediefstal die afgelope boekjaar in Noordwes “is nie ’n weerspieëling van die ware stand van sake nie”.

So meen Naudé Pienaar, adjunkhoofbestuurder van Agri Noordwes. Volgens die jongste misdaadstatistiek wat die polisie Vrydag bekend gemaak het, was daar vanaf 1 April 2019 tot 31 Maart 2020 altesame 3 005 voorvalle van veediefstal in Noordwes. Dis 552 gevalle minder as in die ooreenstemmende tyd in 2018/’19, en ’n afname van 15,5%.

Pienaar sê een van die faktore wat kon bydra tot die verwronge beeld wat hy meen die statistiek gee, is dat boere “ongelukkig vertroue in die polisie se ondersoekwerk, asook in die hofprosesse verloor het. “Ondanks goeie werk wat die polisie op sommige plekke doen, word baie voorvalle nie meer aangemeld nie. Ons sien dit ook met ander misdaad op plase. Uit wat ek op veiligheidsgroepe sien en daagliks beleef, neem veediefstal, nes ander vorme van misdaad, nou eerder toe.”

Die diefstal van skape kos die land se boere miljoene rande. Foto: Argief

Die goeie nuus vir Noordwes is dat dit uit die jongste misdaadstatistiek lyk asof die polisie grootliks vorder in die stryd teen misdaad hier. By verre die meeste misdrywe het die afgelope boekjaar afgeneem.

Moorde het met 10% afgeneem van 961 in die vorige boekjaar tot 864 in 2019/’20. Twee mense is volgens die polisie in die mees onlangse boekjaar op hoewe en plase in Noordwes vermoor. Die 1 076 huisrooftogte wat aangemeld is, is 16,7% minder as in die vorige boekjaar toe 1 291 voorvalle aangemeld is. Huisinbrake het met 8,3% afgeneem.

Min polisiewyke in Noordwes verskyn op die lyste van 30 stasies landwyd waar die verskillende kategorieë misdrywe die meeste aangemeld is. Die Ikageng-township in Potchefstroom is die polisiewyk wat die meeste daar verskyn, veral ten opsigte van seksuele misdrywe. Dié township is 20ste op die top-30-lys vir seksuele oortredings. Dié oortredings het die afgelope boekjaar met 27% in Ikageng toegeneem. Daar was altesame 198 voorvalle. Ikageng is ook nommer 12 op die top-30-lys vir verkragtings landwyd. Daar was by dié stasie die afgelope boekjaar ’n toename van 32% in verkragtings nadat 178 voorvalle in 2019/’20 aangemeld is.

Ikageng beklee boonop die 15ste posisie op die top-30-lys vir aanmeldings landwyd van sake van aanranding met die doel om ernstig te beseer. Ander polisiedistrikte in Noordwes wat op die top-30-lys vir kontak- seksuele misdrywe landwyd verskyn, is Mahikeng, Khuma (naby Stilfontein) en Delareyville.

Rustenburg is die ander polisiedistrik in Noordwes wat onder top-30-lyste verskyn. Dié stad het die vierde meeste voorvalle van huisinbrake landwyd gehad. Daar was altesame 1 073 gevalle – 41 (4%) meer as in die vorige boekjaar. Rustenburg het van al die polisiedistrikte landwyd die negende meeste voorvalle van transitorooftogte (3) gehad. Mogwase en Thlabane, albei in die Rustenburg-omgewing, verskyn ook op die top-30-lys vir transitorooftogte. By dié twee stasies was daar elk twee voorvalle.

Ventersdorp het die top-30-lysie vir veediefstalle gehaal. Dié dorp is met 142 voorvalle 23ste op die lys. Dis wel ’n 32%-afname sedert die vorige boekjaar.

Van die ernstige misdrywe in Noordwes wat afgeneem het, sluit in seksuele oortredings, poging tot moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer, roof en roof met verswarende omstandighede. Verkragtings het met net meer as 7% afgeneem nadat 3 136 voorvalle in die jongste boekjaar aangemeld is. Dwelmverwante misdrywe het met 28% afgeneem.

Bestuur onder die invloed van alkohol en dwelms het egter drasties toegeneem (25%). 3 480 voorvalle is aangemeld teenoor die vorige boekjaar se 2 777 gevalle. Poging tot seksuele oortredings het met byna 23% toegeneem, van 214 tot 262 in die mees onlangse boekjaar.

Meer oor:  Naudé Pienaar  |  Noordwes  |  Misdaad  |  Veediefstal  |  Vrae
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.