Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Misdaad in W-Kaap: Bheki Cele antwoord
Bheki Cele Foto: Daily Sun

Misdaadprobleme in die Wes-Kaap kan nie van dié van die res van die land geskei word nie en sal dit daarom saam vanuit ’n nasionale, en nie ’n provinsiale benadering nie, beveg word, sê Bheki Cele, minister van polisie.

Hy het Dinsdag saam met lt.genl. Khombinkosi Jula en ander provinsiale polisieleiers met gemeenskapslede in Philippi, Kaapstad, vergader om onder meer die polisie se misdaadvoorkomingsplanne daar te bespreek.

Cele het daar gesê hy het reeds telefonies met Albert Fritz, Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid, gepraat oor die huidige misdaadsituasie in die provinsie.

Die Wes-Kaapse regering het vroeër aangedui dat hy druk op Cele gaan plaas om in te gryp veral nadat 1 875 mense net in die afgelope ses maande in die provinsie vermoor het.

Vroeër is berig hoe daar net die afgelope naweek 14 bendemoorde in 24 uur op die Kaapse Vlakte aangemeld is. Die provinsie oorweeg selfs regstappe teen Cele as hy nie instem tot ’n dringende vergadering nie.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier, het Maandag gesê hy het ook nog nie ’n antwoord gekry van Cele sedert die provinsie in April ’n interregeringsdispuut met die nasionale polisie verklaar het nie.

Cele het Dinsdag daaroor gesê hy dink nie die polisiestelsel in die Wes-Kaap is problematies nie, “maar miskien die man”.

Hy sal glo nie met Winde as premier vergader nie, omdat “premiers met die president vergader”.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier. Foto: Malherbe Nienaber

Hy sal wel probeer om ná die staatsrede op 20 Junie met Fritz te vergader.

Hy meen egter dat die Wes-Kaapse regering “Goebbels-agtige”-taktiek gebruik oor die ratio tussen die polisie en die gemeenskap in die provinsie.

“Die verhouding in die Wes-Kaap is nie die ergste in die land soos beweer word nie. Dit is die ergste in Noordwes. Die Wes-Kaapse regering hou egter aan om leuens daaroor te versprei in die hoop dat mense dit as die waarheid sal aanvaar. Hulle moet ophou.”

Oor die stygende bendegeweld in die provinsie, het Cele bygevoeg niemand het ooit gesê die polisie se anti-bende-eenheid sou alle probleme onmiddellik oplos nie.

“Die eenheid is nie genoeg nie. Dit is wel deur pres. Cyril Ramaphosa gestig om eers op bendegeweld in spesifieke gebiede te fokus.

“Ons sal die eenheid voortaan beter toerus en beman en na die res van die Kaapse Vlakte uitbrei. Daar is tans ook 5 000 polisierekrute wat in kolleges landwyd opgelei word. Van hulle sal 1 000 in die Wes-Kaap en die ander misdaadbrandpunte in die res van die land ontplooi word om polisiesyfers landwyd te versterk.”

Volgens Cele sal 14 000 rekrute oor die volgende twee jaar ook by die polisiegetalle landwyd gevoeg word.

* Intussen het Jula by dieselfde geleentheid gesê die polisie volg tans leidrade op om vas te stel wie presies agter die vlaag plaasaanvalle sit wat die Wes-Kaap sedert 1 Junie vanjaar teister.

Hy wou weens die sensitiwiteit van die polisie-ondersoeke nie verder daaroor uitwei nie.

Volgens hom was daar reeds 12 plaasaanvalle net in Junie vanjaar in veral die Wynlandstreek.

“Ons het ’n landelike veiligheidsplan wat ons sedert die plaasaanvalle herevalueer. Ons gaan ons reaksievermoë in die Wynlandstreek, veral Worcester, verbeter,” het Jula gesê.

Al wat Cele oor die plaasaanvalle wou sê is dat die polisie wel ’n nasionale landelike veiligheidsplan daarvoor het.

Meer oor:  Alan Winde. Bheki Cele  |  Nasionaal  |  Bendegeweld  |  Misdaad  |  Provinsiaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.