Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Misdaad in W-Kaap: 'Stadsraad bring sy kant'

Die Kaapstadse metroraad doen alles moontlik om die polisie by te staan om geweld in bendegeteisterde gebiede soos Hanover Park en Delft te bekamp en gebruik die jongste beskikbare tegnologie om dit te doen.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, sê 48 lede van die metropolisie en verkeersbeamptes word tans opgelei en sal teen aanstaande maand kan begin. Personeellede van die metro is ook reeds geskuif om nagskofte te werk omdat die meeste geweld saans voorkom.

Dit bly die polisie se primêre verantwoordelikheid, maar metropolisielede en wetstoepassers van die metro is gereed om te help met die voorkoming van misdaad en die ondersoek daarvan,” sê Smith in ’n verklaring.

Hy sê die oorsaak van die huidige konflik in die omgewing hou glo verband met ’n vermeende bendelid wat uit Blikkiesdorp in Delft verwyder is en wat nou wil terugkeer. Die persoon is nie deur die metro se wetstoepassers uit die omgewing verwyder nie, sê hy.

Smith kon nie bevestig of die persoon verbind word met die voorval waar vyf mans verlede Donderdag in Blikkiesdorp doodgeskiet is nie.

Kapt. Frederick van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, kon by navraag ook nie meer inligting oor dié voorval bekendmaak nie.

“Die saak word ondersoek en ons speurders volg alle leidrade op. Die verdagte(s) moet nog in hegtenis geneem word,” sê Van Wyk.

Intussen gebruik die metro die ShotSpotter-tegnologie in Hanover Park. Dit is in Amerika ontwerp. Daarmee monitor die raad skietvoorvalle in die bendegebiede en kan nou presies bepaal waar ’n skoot geskiet is, hoeveel skote in elke voorval geskiet is en selfs in watter rigting die skieter beweeg het.

Maar Smith wys daarop dat dit moeilik is om hulpbronne doeltreffend te ontplooi omdat daar nie ’n patroon by die skietvoorvalle is nie. Vir hulle lyk dit asof die bendes veg om beheer van gebiede in Hanover Park.

“Data toon dat wapens van groter kaliber as net handwapens gebruik word en dat elemente in die taxibedryf ook nou betrokke is. ’n Taxi is byvoorbeeld verlede week aan die brand gesteek,” sê hy.

In ’n poging om die misdaad en geweld te probeer bekamp, het die metro die volgende aanpassings gedoen:

* Tye van skofte en ontplooiings is aangepas om te reageer op geweld wat laat saans plaasvind;

* Personeel van ander gebiede is na die probleemgebiede gebring;

* Bykomende skofte is ingestel en mense op bystand word ingeroep; en

* Bystand word gegee aan die polisie.

Volgens Smith is daar ook voorvalle in Bonteheuwel en Lavender Hill wat aandag benodig.

Volgens hom is daar sedert 1 tot 9 Junie 45 misdaadklagte by die noodkommunikasiesentrum aangemeld.

Daar is 18 klagte vir Hanover Park, 11 vir Manenberg en 18 vir Delft aangemeld.

Alle voorvalle kan met ’n landlyn by 107 en met ’n selfoon by 021 480 7700 aangemeld word.

Meer oor:  Bendegeweld  |  Jp Smith
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.