Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Misdaad: Kontant-bedrywe steeds kwesbaar

Hoewel sekere kontantmisdade soos transitorooftogte sedert die vorige boekjaar afgeneem het, is kleinsakeondernemings steeds kwesbaar vir ander kontantverwante misdrywe.

So sê Richard Phillips, uitvoerende hoof van Cash Connect, ’n vervaardiger van kontantkluise. Hy het gereageer op Bheki Cele, minister van polisie, se bekendmaking van die jongste misdaadstatistieke.

“Die regering en wetstoepassers verdien ’n pluimpie vir die afname in sake-, bank- en transitorooftogte,” sê Phillips.

Transitorooftogte het van April 2018 tot Maart 2019 nasionaal met 23% afgeneem teenoor die vorige boekjaar. Phillips sê egter die jongste misdaadstatistieke wys dat Suid-Afrikaanse ondernemings steeds hoë vlakke van misdaad ervaar.

“Die voorkoms van kontantmisdaad as geheel is steeds kommerwekkend hoog. Met 55 rooftogte by kleinhandelondernemings en 195 sake-inbrake per dag in die land, is dit duidelik dat wetstoepassers hoofsaaklik op transito-misdaad gefokus het.”

Sakerooftogte het met 56 voorvalle (0,28%), van 20 047 tot 19 991 afgeneem in die jaar tot einde Maart. Inbrake by ondernemings het met 29 voorvalle (0,04%) toegeneem, van 71 195 in die vorige boekjaar tot 71 224.

Phillips sê volgens inligting van die Suid-Afrikaanse Verbruikersgoedereraad (CGSA) het gewapende rooftogte teen sy kleinhandellede die afgelope boekjaar met 12% (2 272 voorvalle) afgeneem en was daar 13% (631 voorvalle) minder inbrake.

Phillips meen die nasionale misdaadsyfers wat Donderdag uitgereik is, toon duidelike ooreenkomste tussen transitorooftogte en kleinhandelkontantmisdaad.

“Dit ondersteun ons mening dat hierdie misdade dikwels deur dieselfde georganiseerde sindikate gepleeg word. Statistieke bevestig dat kleinhandelaars se risiko vir gewapende rooftogte dramaties afneem wanneer hulle kies om robuuste kontantkluise te gebruik.

“Al het ons 37% meer kontantkluise in die jaar tot Maart 2019 geïnstalleer, is net 3% van ons kliënte aangeval. In hierdie aanvalle is 80% van die gewapende rooftogte en 84% van bomaanvalle teen ons kliënte suksesvol afgeweer.”

Bankrooftogte het met 69% afgeneem in die afgelope boekjaar. Aanvalle teen brandstofhandelaars het met net meer as 3% afgeneem.

Phillips maan egter misdadigers se “professionaliteit en vaardighede” moenie onderskat word nie. “Hul modus operandi berus op noukeurige beplanning en uitvoering met militêre presisie. Die blatante gebruik van outomatiese wapens en die opblaas van kitsbanke, transitovoertuie en kontantkluise is die reël eerder as die uitsondering.”

Mark Templemore-Walters, bedryfsdirekteur van Cash Connect, sê terwyl R140 miljard op enige gegewe tydstip in die Suid-Afrikaanse ekonomie sirkuleer, bly kontantmisdaad ’n ernstige misdryf. “Ons kan nie bekostig om op ons louere te rus nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.