Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Misdaad op plase: Cyril swyg steeds
plaasaanvalle, grafika

Ondanks pleidooie vanuit die georganiseerde landbou dat pres. Cyril Ramaphosa hom uitspreek teen misdaad op plase, gaan hy steeds niks daaroor sê nie.

Khusela Diko, presidensiële woordvoerder, sê hoewel die presidensie bewus is van die pleidooie, het Ramaphosa besluit hy gaan hom nie oor spesifieke soorte misdade uitlaat nie.

Hy meen die polisie moet dit eerder hanteer.

Dan Kriek, president van Agri SA, sê hulle het reeds met Ramaphosa geskakel en onmiddellik optrede geëis oor die toenemende plaasmoorde en -aanvalle. Kriek se verklaring Dinsdag volg op die moord Sondagaand op Stefan Smit (62), ’n wynboer van die plaas Louiesenhof buite Stellenbosch.

Kriek sê die regering het lank nie die nodige aandag aan plaasmisdade gegee nie.

“Plaasaanvalle is meestal wreed en gewelddadig met ’n wye invloed op die naasbestaandes en die gemeenskap.

Pres. Cyril Ramaphosa Foto: GCIS

Ramaphosa se beloftes voor verkiesing

“Pres. Ramaphosa het in April voor die nasionale verkiesing beloftes gemaak dat boere beveilig sal word en ons sal nou optrede eis. Ons kan nie behoorlik aan ander beleidspunte aandag gee as die veiligheid van ons boere geensins gewaarborg kan word nie,” sê Kriek.

Hy sê ’n nasionale plan, gerugsteun deur aansienlike hulpbronne en polisiëring, asook die doeltreffende werking van die regstelsel, wat met dringendheid toegepas word, is nou nodig.

Henry Geldenhuys, adjunkpresident van TLU SA, het Maandagaand in ’n verklaring gesê sy organisasie is baie bekommerd oor die aansienlike toename in plaasaanvalle en plaasmoorde en dat Ramaphosa, “sowel as die hele kabinet, veral die minister van polisie”, daaroor swyg.

Geldenhuys sê daar word daagliks uitsprake van politieke verhoë af gemaak dat boere die grond gesteel het waarop hulle kos vir alle inwoners van Suid-Afrika produseer.

Kabinet se stilswye

Die vraag is of die kabinet se stilswye ’n aanduiding is dat hulle dié onaanvaarbare situasie oor die hoof sien.

Geldenhuys doen ’n beroep op die regering, die polisie en die nasionale vervolgingsgesag om binne die volgende maand ’n doeltreffende en werkbare oplossing in te stel, en hy raai landbouers aan om hul veiligheidsmaatreëls te verskerp.

Diko het gister by navraag gereageer nadat AfriForum vroeër die dag op ’n mediakonferensie in Centurion sy statistieke vir plaasaanvalle en plaasmoorde van 1 Januarie tot 31 Mei be-kend gemaak het.

Die burgerregteorganisasie het uitgevaar teen Ramaphosa en sy regering omdat AfriForum meen die kwessie word onder die mat ingevee.

Tommy Esterhuyse, Agri SA se hoof van landelike veiligheid, meen Ramaphosa bly stil weens politiekery en versuim daardeur sy plig.

“Ek wil die president vra wie kos op die tafel van sy kiesers gaan sit as daar nie meer boere is nie,” sê hy.

plaasaanvalle, grafika

Bloedige maand op plase

Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, het gesê Mei was ’n besonder bloedige maand op plase in Suid-Afrika met 51 plaasaanvalle wat aangemeld is – ’n groot toename teenoor vorige maande.

Dit is veral kommerwekkend dat die getal plaasaanvalle in die Wes-Kaap sedert die begin van die jaar verdubbel het in vergelyking met die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.

Cameron het bewerings dat plaasaanvalle net om sosio-ekonomiese redes gebeur as ’n mite afgemaak en sê politiek, rassisme en arbeidsgeskille is ook deel van die oorsaak.

Volgens hom moet plaasaanvalle, net soos transitorooftogte, as ’n afsonderlike misdaad met ’n ander aanslag hanteer word.

Kol. Brenda Muridili, polisiewoordvoerder, het gister gesê die polisie het nie ’n kategorie vir plaasaanvalle nie. Dis dus moeilik om te bepaal of daar ’n toename in plaasaanvalle oor ’n bepaalde tydperk was.

Sy het verwys na genl. Khehla Sitole, nasionale polisiehoof, se vergadering met die TLU in April waarna Sitole planne aangekondig het om die getal reserviste in landelike gebiede te vermeerder. Die werwing van dié reserviste is geskeduleer vir die huidige boekjaar.

“Dit sal geadverteer word . . . Dit sal landwyd plaasvind en is daarop gemik om die landelike veiligheidstrategie ten volle toe te pas.” 

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Dan Kriek  |  Plaasmoorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.