Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Misdaad: ‘Regering bied nie morele kompas’
Emeritus-professor Pieter Labuschagne Foto: Sarel van der Walt

Misdaad floreer in Suid-Afrika omdat die land ’n ernstige tekort aan sosiale kapitaal en ’n morele gewete het.

Só het emeritus-professor Pieter Labuschagne, ’n regs- en politieke kenner verbonde aan Unisa, Dinsdag gesê in reaksie op die misdaadstatistiek wat vroeër in die dag in Kaapstad bekend gemaak is.

“Die probleem is dat die regering se morele leierskap geen kompas aan die land en sy inwoners bied nie.

“Die hebsug wat deur die staatskapingskommissie ontbloot word, is skokkend.

“Maar meer skokkend, is dat die topleiers in die ANC en die regering – en dit sluit pres. Cyril Ramaphosa in – níks gedoen het in die Zuma-era om dit te keer nie,” sê Labuschagne.

Jackson MthembuFoto: Felix Dlangamandla

Die ANC het in sy reaksie toegegee dat die statistieke ’n “kommerwekkende prentjie” skets, maar gesê die geveg teen misdaad bly een van sy topprioriteite.

Jackson Mthembu, hoofsweep van die ANC, het in ’n verklaring gesê dit is skokkend dat 57 mense per dag in Suid-Afrika vermoor word.

Mthembu het gesê daar sal dringend aandag aan die regulasies vir die verkryging van vuurwapens en ander wapens gegee moet word. Die veldtog teen die onwettige wapens moet verskerp word.

Die ANC verwelkom Bheki Cele, minister van polisie, se aankondiging dat hy ’n afsonderlike eenheid vir seksuele geweld op die been wil bring.

Só ook die minister se verbintenis om meer polisiebeamptes op te lei.

Dr. Pieter Groenewald Foto: Jaco Marais

Alle Suid-Afrikaners moet saamwerk om misdaad te bekamp, het Mthembu gesê.

Die DA het gesê die misdaadstatistieke wys die ANC-regering verloor die stryd om Suid-Afrikaners veilig te hou.

Zakhele Mbhele, die DA se woordvoerder oor polisie, sê terwyl die regering gemiddeld R9,1 miljoen per persoon per jaar opdok om hooggeplaastes te beskerm, bestee die polisie gemiddeld net R1 500 per persoon om gewone Suid-Afrikaners te beveilig.

Mbhele sê in ’n verklaring dit wys die regering is meer bekommerd oor die veiligheid van die elite as oor die veiligheid van die gemeenskap.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sê die werklikheid van misdaad in Suid-Afrika is dat moord die sesde agtereenvolgende jaar gestyg het.

Zakhele Mbhele Foto: Argief

“Suid-Afrika se moordsyfer is nou 35,1 per 100 000 van die bevolking teenoor die wêreldgemiddeld van 7:100. Dit beteken Suid-Afrika se moordsyfer is vyf keer hoër as die wêreldgemiddeld.”

Groenewald sê sy party verwelkom die bekendstelling van statistiek oor plaasmoorde wat vir die eerste keer sedert 2007 weer saam met die algemene misdaadstatistiek bekend gemaak is.

Op sy beurt sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, die herstrukturering van die polisie is nodig. Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) moet ook reggeruk word om misdadigers doeltreffend te vervolg.

Ian Cameron Foto: Nico Gous

“Die nuutste misdaadstatistiek is vreesaanjaend om die minste te sê. Vertroue in die wetstoepassers van die land se vermoë om misdaad te beveg, word jaar ná jaar opnuut geskaad danksy die verhoogde vlak van ernstige geweldsmisdrywe,” sê Cameron.

Die bekamping van misdaad behoort prioriteit te geniet om algehele anargie en verval te voorkom.

“Die regering se traak-my-nie-agtige houding spreek boekdele oor die ontkenning waarmee die regering met hierdie ernstige saak te werk gaan.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.