Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Misdaadstatistieke: 500 000 moorde post ‘94

Meer as ’n halfmiljoen mense is al sedert die einde van apartheid in Suid-Afrika vermoor en byna ’n miljoen is verkrag.

So sê die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) na aanleiding van die jongste misdaadstatistieke wat Donderdag deur die topstruktuur van die polisie onder leiding van genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, by die parlement bekend gemaak is.

Bheki Cele, minister van polisie.Foto: Gallo Images

“Dit is dus duidelik dat Suid-Afrika die oorlog teen misdaad verloor en dat die ou manier van dinge doen nie werk nie,” sê die SAIRV in ’n verklaring.

Die moordsyfer en die getal voorvalle van poging tot moord het gestyg.

Volgens genl.maj. Norman Sekhukhune, hoof van misdaadnavorsing en statistieke, is die moordsyfer nou 36,4 per 100 000 mense teenoor 35,8 per 100 000 in die vorige boekjaar. Die meeste moorde is oor naweke gepleeg.

Bheki Cele, minister van polisie wat ook die geleentheid bygewoon het, sê daar is ’n baie hoë voorkoms van mense wat vermoor word deur mense wat hulle ken. Hy het verwys na ’n vrou wat haar vier kinders vermoor het.

“Al die sake word as moorde geregistreer. Dit sal baie moeilik wees vir die polisie om sulke moorde te polisieer. Wat ons gevind het, is dat (sulke gevalle) regtig die moordsyfer opgestoot het.”

Meeste huisrooftogte hiér

Die polisiekantore waar die meeste huisrooftogte aangemeld is: Ivory Park, Honeydew, Mondeor, Sandton, Diepsloot, Tembisa in Gauteng; Nyanga, Delft en Khayelitsha in die Wes-Kaap; en Mtunzini in KwaZulu-Natal. 

Verder tel die polisiekantore van Florida, Midrand, Norkem Park, Roodepoort, Douglasdale, asook Pinetown in KwaZulu-Natal, ook onder die 30 polisiekantore in wie se gebiede die meeste huisrooftogte voorkom.

Cele is gevra of koppe gaan rol, soos hy verlede jaar belowe het. “Ons is inderdaad nie waar ons wil wees nie, maar ook nie waar ons verlede keer was nie (toe die toename 1 320 was).

“Ons glo dat ons gestagneer het . . . Ons moet dit nou omkeer.

“So, koppe kan nie rol nie, want daar word van hulle verwag om die getal af te bring.”

Dit blyk uit die syfers dat huiseienaars in Suid-Afrika die grootste kans het om tussen middernag en 04:00 in hul eie huise met vuurwapens, messe en byle aangeval en beroof te word.

Só moet moordsyfer daal

Die polisie wil weer kyk na sekere stappe wat in die verlede gedoen is om die moordsyfer te probeer verlaag, sê Bheki Cele, minister van polisie. 

Dit sluit in dat sekere polisie-eenhede weer ingestel word, metodes gevind word om nouer met nieregeringsorganisasies en die samelewing in geheel saam te werk en ook om beter saam te werk as ’n groep polisiekantore. 

Verdere opleiding, veral vir gespesialiseerde eenhede wat reageer op misdade soos transito- en bankrooftogte en motor- en vragmotorkapings, sal bekyk word, “asook die opskerping van ons speurders”.

Cele sê alkohol speel ’n groot rol in misdaad en daarom sal gekyk word na dranklisensies. 

“Jy kan nie ’n lisensie toestaan wat sê hulle kan 04:00 sluit nie. Hoe langer hulle oop bly, hoe meer drink mense en vermoor hulle mekaar.”

Dít gebeur die meeste in Gauteng, die Wes-Kaap, KwaZulu-Natal en Mpumalanga.

Dié soort misdaad vorm saam met motorkapings en sakerooftogte die sogenaamde trio-misdade.

Huisrooftogte is die enigste van dié misdaadkategorieë wat in die betrokke boekjaar gestyg het.

Motor- en vragmotorkapings, sakerooftogte, transitorooftogte en bankrooftogte se statistieke het gedaal. Die Noord-Kaap blyk die veiligste provinsie vir huis­eienaars te wees met net 157 huisrooftogte wat in die provinsie aangemeld is.

Volgens die statistieke het rowers in meer as 15 000 van die huisrooftogte toegang tot die huise verkry deur huiseienaars met vuurwapens of messe te dreig, terwyl in ander gevalle slotte afgebreek, vensters gebreek of huiseienaars fisiek oorval is.

In 1 443 gevalle het slagoffers self die rowers ingelaat wat hulle onder valse voorwendsels genader het.

16 026 motorkapings is die afgelope boekjaar aangemeld, waarvan 7 776 in Gauteng, 2 764 in KwaZulu-Natal, 2 294 in die Wes-Kaap en 1 048 in die Oos-Kaap was. Die soort motors wat die meeste gekaap word, is Toyota, Volkswagen, Nissan, Ford, Hyundai, Isuzu, Mercedes-Benz, BMW en Chevrolet.

Risenga Maluleke, statistikus-generaal, het die syfers Donderdag as “amptelik” verklaar.

“Ons het hierdie statistieke dié keer deur alle prosesse geneem en bevind dat dit as amptelike statistieke kwalifiseer,” sê Maluleke.

‘Daar is ’n sprankie hoop’

Motor- en vragmotorkapings en sake-, transito- en bankrooftogte het afgeneem.

Cele skryf dit toe aan die polisie se nasionale stabiliseringsplan, waardeur misdaadintelligensie, spesiale taakspanne, nasionale ingrypingseenhede en taktiese reaksie-spanne vinnig ontplooi kan word.

“Ons glo die herbouing van misdaadintelligensie, die Valke en beter werkverhoudinge met die Staatsveiligheidsagentskap, die nasionale vervolgingsgesag en die departemente van justisie en verdediging sal ook voortgaan om beter resultate te lewer.

“Hoewel ons nog nie is waar ons wil wees nie, is daar ’n sprankie hoop. 

“Polisiesigbaarheid by winkelsentrums en ander openbare plekke het ook verseker dat ons ’n stap nader is om die doelwitte van die Nasionale Ontwikkelingsplan te bereik,” sê hy.

Meer oor:  Bheki Cele  |  Moord  |  Misdaadstatistieke  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.