Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Misdaadsyfers in W-Kaap ‘onaanvaarbaar’ – Winde

Die jongste misdaadsyfers vir die Wes-Kaap is “onaanvaarbaar” en dui op die behoefte aan meer polisielede en meer gereelde bekendmaking van statistieke.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier, het Donderdag gesê die provinsie kan nie langer vir die polisiediens wag “om sy sake in orde te kry nie” en hulle werk aan ’n veiligheidsplan wat op wetstoepassing en beskerming fokus.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier.Foto: Netwerk24

Winde het in ’n verklaring gereageer op die misdaadsyfers wat Donderdag in die parlement bekendgemaak is.

Hy sê ondanks Bheki Cele, minister van polisie, en die polisiediens se beloftes het geweldsmisdade in die Wes-Kaap “grootliks onveranderd” gebly.

“Ek is bekommerd daaroor dat moordsake met 6,6% in die provinsie toegeneem het. Daarvan is 47% van die moorde by net tien polisiekantore aangemeld. Die verhouding van moorde tot die bevolking is 60 per 100 000 – byna dubbeld die nasionale gemiddeld.”

Intussen sal die provinsiale regering aanhou vra dat polisiëring na die vlak van provinsies afgewentel word, “omdat dié syfers aandui dat die polisiediens onder nasionale bestuur die oorlog teen misdaad verloor het”, sê Winde.

Albert Fritz, LUR vir gemeenskapsveiligheid, het benadruk dat 18,9% van alle moorde in die land in die Wes-Kaap voorgekom het, terwyl dié provinsie net 11,6% van die bevolking uitmaak.

Albert Fritz, LUR vir gemeenskapsveiligheid.Foto: Malherbe Nienaber

Hy sê dit is onaanvaarbaar dat soveel van die polisiekantore in die provinsie onder die top-30 in die land val wat die meeste misdade hanteer, en is dit is ’n aanduiding dat meer polisielede en meer gereelde uitreiking van misdaadsyfers nodig is.

Dan Plato, burgemeester van Kaapstad, het ook in ’n verklaring daarop gewys dat Cele verlede jaar gesê het “die koppe sal rol” as die misdaadsyfers nie verbeter nie en het gevra of dit nou sal gebeur nadat misdaad in die meeste kategorieë toegeneem het.

“Die strafregstelsel het heeltemal ineengestort – van polisiëring tot vervolgings. Tien jaar lank het die misdaadkoers jaar ná jaar toegeneem wat betref die ernstigste misdade soos moord, kaping en rooftogte in woongebiede. Dit is van die misdade wat inwoners die meeste vrees en dit gaan voort met geen einde in sig nie.”

Hy sê polisielede doen hul bes in moeilike omstandighede, “maar hulle word gekniehalter deur mislukkings op bestuursvlak en hul lewe word in gevaar gestel”.

Dan Plato, burgemeester van Kaapstad.Foto: Peter Abrahams/SON

“Die feit is dat die metroraad al hoe meer geld van belastingbetalers moet gebruik vir dienste waarvoor hulle reeds met hul inkomstebelasting betaal. Ons moes metaaldiefstal, toepassing van drankwette, wetstoepassing aan die kus, die spoorweë en selfs bekamping van bendegeweld aanvat, hoewel dit nie die metroraad se verantwoordelikheid is nie en nie voorheen op plaaslike regeringsvlak gedoen is nie.”

Plato sê hy het reeds nog R165 miljoen in ’n aansuiweringsbegroting in Januarie beskikbaar gestel en die veiligheidsdirektoraat het sy grootste begroting in tien jaar gekry. Dit is egter nog nie genoeg nie.

Bonginkosi Madikizela, DA-leier in die Wes-Kaap, sê dit is duidelik dat daar nie genoeg sigbare polisiëring en misdaadintelligensie is om polisielede by te staan om misdade en dwelmverwante misdade te verhoed nie.

Bonginkosi Madikizela, DA-leier in die Wes-Kaap.Foto: Malherbe Nienaber

Hy het in ’n verklaring daarop gewys dat die opsporing van dwelmverwante misdade met 30,6% van 117 157 in 2017-’18 tot 81 344 in 2018-’19 gedaal het en sê dit wys dat die polisie sukkel om dié misdade te bekamp.

“As die polisie aktief sigbaar in gemeenskappe was, sou ons ’n toename in dwelmverwante sake weens polisieoptrede gesien het. Dit is nog meer kommerwekkend dat ons die stryd teen dwelms verloor omdat ons nie genoeg polisielede en hulpbronne in die provinsie het nie.”

Hy sê dit is belangrik om kennis te neem dat die Wes-Kaap ’n “ernstige tekort” het aan bevoegde polisielede wat behoorlik opgelei is en oor die toerusting beskik om hul werk te doen.

“Dit is ’n reuse-probleem wat die DA verskeie kere onder die aandag van die nasionale regering en minister Cele gebring het. Die doeltreffende bestuur van die polisie is noodsaaklik in die gesprek rondom veiliger gemeenskappe.”

Grafika24
Meer oor:  Albert Fritz  |  Alan Winde  |  Wes-Kaap  |  Misdaadstatistieke  |  Misdaad  |  Misdaadsyfers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.