Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Misdaadsyfers: Moord gedy in KZN, transitoroof in Gauteng

Waar moorde in KwaZulu-Natal tussen begin Oktober tot einde Desember verlede jaar toegeneem het, is transitorooftogte weer een van die misdade wat gedy in Gauteng.

Luidens die misdaadsyfers van die derde kwartaal van die huidige boekjaar, wat strek van 1 Oktober tot 31 Desember, het moorde in KwaZulu-Natal met 10,5% toegeneem met 136 meer moorde as dieselfde tyd in 2019.

In totaal het die provinsie se moordsyfer van 1 301 tot 1 437 gestyg.

Die meeste hiervan was in Umlazi waar daar in die vorige ooreenstemmende tydperk 65 mense vermoor is, teenoor 74 tussen Oktober en Desember 2020.

In Gauteng het moorde met 93 (van 1 234 tot 1 327) toegeneem, wat ’n 7,5%-styging aandui.

Noordwes het egter 23 minder moorde aangeteken, met 239 teenoor 262.

Op sy beurt is KwaZulu-Natal weer die enigste van dié drie provinsies wat ’n afname in seksuele oortredings getoon het. Hier is 4,2% minder seksmisdade aangemeld, terwyl die syfer in Gauteng met 6% gestyg het, en in Noordwes met 4,9%.

Hoewel die algemene syfer vir alle afdelings onder roof met verswarende omstandighede in Gauteng met 10,5% gedaal het, het veral transitorooftogte in die provinsie toegeneem van 15 voorvalle tot 31 – ’n styging van 106,7%.

Noordwes het in albei boekjaar-kwartale drie transitorooftogte gehad, terwyl KwaZulu-Natal van drie tot vyf voorvalle gestyg het.

grafika
grafika
grafika

Motorkapings het wel in al drie die provinsies toegeneem.

Noordwes neem hier die voortou met ’n toename van nege gevalle, ’n 6,6%-styging.

Gauteng toon ’n 5,9%-styging met 131 meer voertuie wat gekaap is.

In KwaZulu-Natal is 34 meer voertuie gekaap, ’n styging van 4,5%.

Noordwes sowel as Gauteng het egter vir daardie drie maande ’n afname in huisrooftogte getoon, waar dit in eersgenoemde ’n daling 10,2% (van 344 tot 309) toon, en in Gauteng ’n daling van 9,1% (van 2 136 tot 1 941 gevalle) toon.

KwaZulu-Natal het ’n 6,2%-styging in huisrooftogte gehad met 1 299 voorvalle teenoor die vorige 1 223.

Rooftogte by sake-ondernemings het weer in KwaZulu-Natal met 24,6% toegeneem, terwyl daar ’n afname van 13,4% in Gauteng was en ’n afname van 20,8% in Noordwes.

Daar is geen bankrowe in die tydperk in enige van die drie provinsies aangemeld nie.

In hierdie boekjaar se kwartaallikse syfers, waarvan ’n gedeelde in die aangepaste vlak 3 van die staat van inperking geval het wat op 15 Desember begin het, en sodoende ook ’n drankverkope-verbod en nuwe aandklokreël, was daar in al drie die provinsies ’n skerp afname in gevalle van bestuur onder die invloed van alkohol of dwelms.

In KwaZulu-Natal en Gauteng het die syfers met duisende gedaal. Daar was ’n afname van 61,3% in eersgenoemde provinsie met 3 649 minder voorvalle (van 5 954 tot 2 305).

In Gauteng is 2 799 minder voorvalle aangemeld (9 757 tot 6 958) – ’n daling van 28,7%.

Daar was 602 minder gevalle in Noordwes waar die syfers van 1 079 tot 477 geval het. Hierdie 602 minder gevalle het tot ’n daling van 55,8% gelei.

Shane Williams wat nou deel is van die stygende misdaadstatistieke van Gauteng.

‘Wat van die moord op my broer?’‘Wat van die moord op my broer?’

Maar wat word dan gedoen aan die feit dat die twee misdaadkategorieë wat tot sy broer se dood gelei het – ’n transitorooftog en moord – steeds toeneem, is wat Des Williams wil weet.

Williams het Vrydag in een opsig met Bheki Cele, minister van polisie, saamgestem; die polisie se planne om transitorooftogte – wat tot Shane Williams se dood gelei het – te bekamp, werk nie.

Shane (40) is op 30 Oktober verlede jaar doodgeskiet toe vlugtende transitorowers sommer op sy voertuig ook losgebrand het.

Hy was ’n insleepvoertuigbestuurder van First

Help aan die Wes-Rand van Johannesburg.

Daar was daardie Vrydag ’n transitorooftog in Roodepoort.

Luidens die jongste kwartaallikse misdaadsyfers is die Roodepoort-polisiestasie die stasie in Gauteng waar die meeste transitorooftogte aangemeld is.

In 2019 was daar geen transitorooftog hier nie.

Van Oktober tot Desember verlede jaar was daar twee – ook die een wat tot Shane se dood gelei het.

Die rooftog was op die kruising van Hendrik Potgieter- en Ontdekkersweg.

Die aanvallers het daarna weggejaag en Shane was ’n paar kilometer daarvandaan in sy insleepvoertuig.

“Hy het by sy ‘punt’ gesit en ’n oproep van ’n onverwante ongeluk ontvang,” sê Williams.

Volgens hom lyk dit asof die transitorowers in hul vlugtog ’n U-draai iewers gemaak het en reg van voor op Shane afgekom het wat pas weggetrek het om na die ongelukstoneel te ry.

“Shane was omtrent 100 m van sy staanpunt toe hy deur die rowers geskiet is. Die oorspronklike inligting wat die polisie verskaf het, was verkeerd.

“Hy het nie die transitorowers gejaag of hulle agternagesit nie. My broer het nog nooit eens in sy lewe ’n vuurwapen besit nie.

“Hy het niks met die rooftog te doen gehad nie, maar het met sy lewe betaal. Hoe moet ek daaroor voel?

“As dit nie vir die transitorooftog was nie, was Shane nie vermoor nie.

“Iets moet aan hierdie misdade gedoen word. Hoeveel jare gaan dit nie al aan nie? En dit word nie beter nie – inteendeel, dit word erger,” voeg Williams by.



Meer oor:  Shane Williams  |  Misdaad  |  Transitoroof  |  Moorde  |  Misdaadsyfers  |  Moord  |  Misdaadstatistieke  |  Syfers  |  Vermoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.