Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Misdaadsyfers: ‘My man se moord net nog ’n statistiek’

Haar man se dood gaan soos baie ander net ’n statistiek wees wat nooit opgelos sal word nie.

Só het Joey Pretorius (52) van Pretoria Vrydag aan Netwerk24 gesê nadat genl. Bheki Cele, minister van polisie, die vierde kwartaal van 2020, wat Oktober, November en Desember insluit, se misdaadstatistieke bekend gemaak het.

Joey Pretorius (52) en haar man Len (60) wat in November in Limpopo doodgeskiet is. Foto: Verskaf

Pretorius se man, Len (60), is in November koelbloedig doodgeskiet op ’n gasteplaas in die Tonteldoos-distrik in Limpopo.

Hy is een van 237 mense wat van Oktober tot Desember in Limpopo vermoor is. Moord in die provinsie het met 3,3% afgeneem in vergelyking met die ooreenstemmende tydperk in 2019.

Die egpaar was vir ’n wegbreeknaweek op die gasteplaas toe ’n groep gewapende rowers Pretorius deur die venster van hul woonplek geskiet het. Len is in sy sy geskiet en het binne minute doodgebloei.

Die moordenaars het met Len se beursie, R150 en van die egpaar se fietsrytoerusting gevlug.

Niemand is tot dusver aangekeer nie.

Joey sê sy het onlangs met ’n speurder by die Burgersfort-polisiekantoor in Limpopo gepraat wat haar man se moord moet ondersoek. “Ek was geskok om agter te kom dat hy nie presies weet wat die aand van die moord gebeur het nie. Hoe kan iemand ’n saak ondersoek sonder om die feite te kry?”

Sy sê sy het “geen vertroue” dat haar man se moordenaars ooit gevang sal word nie.

Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder in Limpopo, sê die ondersoek na Pretorius se moord is nog nie afgehandel nie.

Volgens die polisie se jongste statistieke het verkragting in Limpopo met 11,5% gestyg. Daar is 109 meer mense verkrag in die vierde kwartaal van 2020 (1 053 mense) in vergelyking met 2019 se 944.

Huisrooftogte het met 17,8% gedaal, veediefstal het met 20,7% gedaal en rooftogte by ondernemings het met 11,8% in die provinsie afgeneem.

Motorkapings het met 22,5% gestyg en seksuele aanranding met 18,5%.

Cele het Vrydag gesê hy is bekommerd dat die skerpste landwye toename in moord (13,7%) in Mpumalanga aangemeld is.

In Mpumalanga is 38 meer mense vermoor in die vierde kwartaal (316 mense) in vergelyking met die 278 die vorige jaar.

Gerrit Stander (38) wat in Oktober doodgeskiet is op ’n hoewe buite Witrivier, is een van die moordslagoffers van Mpumalanga.

Bykans alle ander misdrywe in Mpumalanga het ook gestyg.

Rooftogte by huise het met 21% gestyg en rooftogte by sakeondernemings met 9,3%.

Transitorooftogte het met ’n allemintige 500% gestyg.

Seksuele aanranding het met 28,4% gestyg. Inbrake by huise het in September, Oktober en November met 13,8% gedaal en inbrake by ondernemings het ook gedaal met 7,9%.

Meer oor:  Misdaadstatistieke  |  Syfers  |  Vermoor  |  Misdaad  |  Moorde  |  Misdaadsyfers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.