Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Misdadige elemente’ agter vragmotor-oproer

Die Padvragvereniging (RFA) het Maandag gesê dat die betogings waarin vragmotors ’n teiken is, nie deur enige plaaslike vervoervakbond ondersteun word nie.

Gavin Kelly, voorsitter van die RFA, het aan Netwerk24 gesê niemand van die plaaslike vervoervakbonde neem aan die protesaksie deel nie.

“Die veiligheid van vragmotorbestuurders kom eerste. Na my mening is dit misdadige elemente wat die geleentheid gebruik om die vervoerstelsel van die land tot stilstand te bring,” sê Kelly.

“Ou foto’s en video’s van protesaksie in die vervoerbedryf word op sosiale media gehersirkuleer, wat verder tot die verwarring bydra en vrees onder vragmotorbestuurders en die publiek aanblaas.”

Polisiebeamptes is na al die hoofroetes in KwaZulu-Natal ontplooi.
Brig. Jay Naicker, polisiewoordvoerder

Thulas Nxesi, minister van arbeid, Bheki Cele, minister van polisie, Fikile Mbalula, minister van vervoer, en dr. Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, het Sondag ná ’n dringende vergadering die aanvalle op vragmotors op die land se paaie as “ekonomiese sabotasie” bestempel en belowe om stappe te doen om dit hok te slaan.

Brig. Jay Naicker, polisiewoordvoerder in KwaZulu-Natal, sê dat 20 verdagtes sedert Sondag in verband met die protesaksie in hegtenis geneem is.

“Polisiebeamptes is na al die hoofroetes in KwaZulu-Natal ontplooi,” sê Naicker. Dit volg nadat twee vragmotors Maandagoggend in Montclair in die suide van Durban aan die brand gesteek is.

Volgens supt. Wayne Minnaar, woordvoerder van die Johannesburgse metropolisie, is geen vragmotorverwante geweld Maandag in Gauteng aangemeld nie.

Drie vragmotors is Maandagoggend op die R555-pad by Burgersfort in Limpopo aan die brand gesteek. Kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder, het by navraag die voorval aan Netwerk24 bevestig, maar kon nie sê of dit met die landwye protesoptrede verband hou nie.

Volgens kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, is geen vragmotorverwante voorvalle of geweld Maandagoggend in Noordwes aangemeld nie.

Talle Kaapse paaie was Maandagoggend vroeg gesluit nadat vragmotors die paaie versper het. Lede van die blitspatrollie is na Baden Powell-weg ontbied nadat vragmotors daar byna aan die brand gesteek is. Die Hugenote-tonnel is vroeër vir verkeer gesluit nadat ’n vragmotor tussen die tolhek en die tonnel aan die brand gesteek is.

Soos vroeër berig, het die RFA in Junie geraam dat 213 mense al dood is sedert die aanvalle op plaaslike en buitelandse vragmotorbestuurders in Maart 2018 begin het, en dat byna 1 400 vragmotors beskadig of uitgebrand is.

Meer oor:  Aaron Motsoaledi  |  Thulas Nxesi  |  Bheki Cele  |  Fikile Mbalula  |  Gauteng  |  Durban  |  Xenofobie  |  Vragmotor  |  Oproer  |  Betogings  |  Geweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.