Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Misdadiger daag met werkvoertuig by paroolbeampte op

Morris Tshabalala, misdaadintelligensie-beampte en veroordeelde misdadiger, het met ’n werkvoertuig by sy paroolbeampte opgedaag.

Dit ondanks die feit dat hy beweer hy is werkloos, het die handelsmisdaadhof in Pretoria Donderdag gehoor. Tshabalala het glo bande met die voormalige nasionale polisiekommissaris Khomotso Phahlane.

Die onafhanklike polisie­ondersoekdirektoraat (Opod) het Tshabalala Dinsdag in hegtenis geneem. Hy staan tereg op vyf aanklagte van bedrog, diefstal en korrupsie nadat hy glo die intelligensie-afdeling se geheime diensrekening met R500 000 bedrieg het.

“Hy beweer in die klagstaat hy is werkloos, maar hy het sy paroolbeampte in ’n voertuig van misdaadintelligensie besoek,” het Chris Smith, staatsaanklaer, Donderdag in die hof gesê.

Werk hy vir die intelligensiediens of nie? Beskerm die diens hom of nie.

Tshabalala se regsverteenwoordiger het ook sy kliënt se beweerde werkloosheid weerspreek deur te sê die aangeleentheid moet versigtig hanteer word omdat die hof hier te doen het met iemand wat by veiligheidsake in die land betrokke is.

Luidens die beëdigde verklaring het Tshabalala twee versoeke ingedien vir blindings en gordyne vir veiligheidshuise in Pretoria. ’n Bedrag van R563 005 is hiervoor goedgekeur en kontant uitbetaal.

Tshabalala is in 1996 aan gewapende roof skuldig bevind, maar het nooit opgedaag om sy tronkstraf uit te dien nie. Hy het glo gevlug terwyl hy nog vir die intelligensiediens gewerk het, totdat hy in 2013 weer in hegtenis geneem is. Hy was twee jaar in die tronk voordat hy op parool vrygelaat is. Daarna is hy glo weer deur die intelligensiediens aangestel.

Opod sê Phahlane was glo betrokke by sy herindiensneming. Smith het gevra dat die saak uitgestel word sodat sekerheid verkry kan word oor Tshabalala se werkstatus, asook om vas te stel of hy betrokke was by die multimiljoenrand-rooftog in 2017 by die O.R. Tambo-lughawe in Johannesburg.

“Werk hy vir die intelligensiediens of nie? Beskerm die diens hom of nie,” het Smith Donderdag gevra.

Volgens die staat is banknote ter waarde van R20,7 miljoen op 7 Maart 2017 by ’n Standard Bank-tak by die lughawe gebuit. Luidens sommige berigte kon dit soveel as R200 miljoen gewees het.

’n Bakkie gemerk as ’n polisievoertuig is glo in die rooftog gebruik.

Tshabalala sal na verwagting Vrydag formeel om borgtog aansoek doen.

Meer oor:  Opod  |  Chris Smith  |  Morris Tshabalala  |  Parool
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.