Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Model dank God ná mesaanval

Die Here was goed vir haar en as dit nie vir sy genade was nie, sou sy nie vandag van sy goedheid kon getuig nie.

So sê Thanelda Nieuwenhuys (25), ’n Bloemfonteinse model, wat ’n mesaanval wat amper haar lewe gekos het, oorleef het.

Nieuwenhuys, wat in 2015 as eerste prinses in die Mej. Windmill Bloemskou-skoonheidskompetisie aangewys is, is op 20 Desember by haar woonstel oorval en twee keer in haar bors deur haar hart en haar long gesteek.

Sy het ’n nood-hartoperasie in die Mediclinic Bloemfontein ondergaan en haar hart het tydens die operasie gaan staan.

“Maar alles het ten goede uitgewerk en is deel van die Here se plan met my lewe.” Dit is net genade dat sy nog leef, sê sy.

Thanelda Niewenhuys koester geen wrok of kwade gevoelens nie nadat ’n onbekende man haar twee keer in haar bors gesteek het.Foto: Lyle Simes Photography

Sy het Kersdag en Nuwejaar in ’n hospitaalbed deurgebring, maar is ná slegs 15 dae in die hospitaal ontslaan. Volgens haar kon medici nie glo sy het so vinnig herstel nie.

Nieuwenhuys, ’n diereliefhebber, het voor die aanval vir haar diere, insluitend ’n hasie, ’n voël en klein kat, kos gegee, maar niks buite haar woonstel gehoor of gesien nie.

Terwyl sy na buite is om ’n sak vullis weg te gooi, het sy by die deur agteruitgeloop om te keer dat die klein katjie uithardloop. ’n Gewapende man het skielik agter haar gestaan.

“Ek het geskreeu en hy het gesê hy wil my handsak hê. Ek het nee gesê, toe steek hy my met die mes in my bors.

“Die man het by my woonstel ingehardloop en ek het gesien my bors is vol bloed. Ek het my bors styf vasgedruk.”

Nadat die man weggehardloop het, het sy die deur gesluit en by haar bure om hulp gevra.

Die bure het hul paniekknoppie gedruk en lede van ’n veiligheidsmaatskappy en paramedici was binne minute op die toneel.

Nieuwenhuys sê hoewel sy ’n erge traumatiese aanval oorleef het, koester sy geen wrok of kwade gevoelens teenoor haar aanvaller nie.

“Ek is nie kwaad nie en wens hom ook niks lelik toe nie. Ek ken nie sy omstandighede nie en het hom reeds vergewe.”

Sy sê as die donker dae kom, hou sy vas aan die Woord van die Here in Jesaja 41:10: “Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red ek jou.”

Sy bedank almal vir hul gebede, omgee en liefde ná die voorval.

Meer oor:  Messteek  |  Mesaanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.