Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Moenie eens dink wat vroue moes deurmaak’, vriend
Blomme en kerse is by ‘n foto van die vermoorde Lizette en Hettie Deacon in die Ocean Basket-restaurant in die Mall of the North in Polokwane neergesit. Foto: Marietie Louw-Carstens

’n Mens moenie eens dink aan wat hulle moes verduur in hul laaste ure nie, sê Christo van der Merwe, ’n goeie vriend van die vermoorde Lizette Deacon (55) en haar ma, Hettie (79), van Polokwane.

Van der Merwe het Donderdagaand op die bloed in hul geplunderde meenthuis afgekom.

Twee mans wat glo betrokke was by die ontvoering van en moord op die vroue Donderdag vermoedelik tussen 17:00 en 18:00 uit hul meenthuis, is Sondag enkele ure van mekaar in hegtenis geneem.

Oudkol. Gawie Louwrens van Bosveld Misdaadondersoeke (BMO) het saam met verskeie polisie-eenhede omstreeks 03:00 Sondagoggend op ’n huis in Mookgophong toegeslaan waar ’n 35-jarige Zimbabwiër in hegtenis geneem is.

Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder in Limpopo, sê ’n 30-jarige man is ook omstreeks 08:00 in Polokwane deur ’n polisietaakspan in hegtenis geneem. Die polisie soek na nog moontlike verdagtes. Die motief vir die moorde is nog ’n raaisel.

Hettie Deacon (79) en haar dogter, Lizette (55), van Polokwane is Donderdag vermoor.
Niemand verdien wat met hulle gebeur het nie.

Inwoners van die stad is steeds geskok, verslae en woedend oor die moorde op die twee geliefde inwoners.

Lizette was die eienaar van die Ocean Basket-restaurante in die Savannah Mall en die Mall of the North. Hettie het haar met die bestuur van die restaurante gehelp.

Hulle is uit hul meenthuis in die Alpetra-woonkompleks in die gegoede Welgelegen-woonbuurt in Lizette se wit Honda-motor ontvoer.

Mojapelo sê hulle is etlike kere in die meenthuis met messe gesteek.

Bloed op die mat en teen die bed in Lizette Deacon se slaapkamer. Foto: Marietie Louw-Carstens
Bloedkolle en muntstukke op die mat in Lizette Deacon se slaapkamer. Foto: Marietie Louw-Carstens
Alles was deurmekaar, toe weet ek hier is groot fout.

Hul hande is styf met kabelbinders vasgebind en lappe is baie styf om hul koppe en oor hul gesigte gedraai voordat hulle in die bagasieruim van die motor geboender is.

Hul vasgebinde lyke is ure later in Lizette se motor in ’n veld buite Polokwane gekry.

“Niemand verdien wat met hulle gebeur het nie,” sê Dia van Staden, Lizette se jarelange vriendin sedert hul tyd as onderwysstudente.

In die meenthuis het muntstukke by die bloedmerke op die mat in Lizette se kamer gelê. Strooikussings is van die bed afgegooi en het op die vloer tussen die bloed gelê. ’n Pot handeroom en ’n gegeurde kers het op haar bed gelê, en onderaan die bed was daar ook bloed.

In Hettie se kamer het ’n klein notaboekie waarin Bybelversies met die hand geskryf is, op ’n Bybel op die bedkassie langs haar bed gelê. Haar bril was op die rand van wasbak in die kamer waar daar ’n pakkie hoofpynpille gelê het.

’n TV-stel is op die mat in Lizette en Hettie Deacon se meenthuis gekry. Foto: Marietie Louw-Carstens

Die laaie van houtkaste was oopgepluk, en in nog ’n kamer het ’n TV-stel skuins op die mat gestaan. Bankkaarte en ’n SmartShopper-kaart van Pick ’n Pay het op ’n houtkas by ’n klanktoestel gelê.

Netwerk24 het met verskeie bure gepraat en niemand het ’n geraas of ’n geskreeu Donderdagaand gehoor nie. Hulle kan onthou dat Hettie die middag nog blomplantjies in ’n bedding by die voordeur geplant het.

Hoewel Theo van der Wath, wat reg langs die Deacons bly, se honde na 17:00 baie geblaf het, het hy nie uitgegaan om te kyk of iets fout is nie.

Die vroue was vermoedelik toe reeds in hul huis oorval.

Van der Wath sê hy het gehoor “iemand jaag in ’n lae rat met Lizette se kar uit die kompleks. Ek het gedink ek wil vir haar sê sy kan nie so vinnig ry met kinders wat tussen die huise speel nie.”

Inwoners het beheerafstandtoestelle vir die hoofhek van die kompleks en daar is geen veiligheidswagte nie.

’n Blommesee Vrydag by die Ocean Basket-restaurant in die Mall of the North ter herinnering aan die vermoorde Lizette Deacon en haar ma, Hettie, van Polokwane. Foto: Deaan Vivier

Van der Merwe, wat ook in die Alpetra-kompleks bly, het omstreeks 18:00 gaan kyk waar hulle is, want Lizette het vroeër die middag gesê sy sal by hom inloer.

Hulle het jare lank saam rolbal gespeel.

Hy het na albei vroue se selfone gebel, maar dit het net gelui. Sy WhatsApp-boodskappe is ook nie gelees nie.

Hy is toe na hul meenthuis en het gesien die voordeur staan op ’n skreef oop. Hy het ingegaan en na die vroue geroep, maar die huis was stil.

’n TV-stel het op die vloer in die gang gestaan.

In Hettie se kamer was die houtkaste se deure en laaie oop. “Ek is in Lizette se kamer in, daar was ook laaie oopgetrek en daar was baie bloed op die mat en teen die bed. Alles was deurmekaar, toe weet ek hier is groot fout.”

Volgens Van Staden was Lizette die mede-eienaar van drie ander Ocean Basket-restaurante in Gauteng. “Haar vinger was altyd op die pols van haar besigheid en sy het daarin geglo om mense altyd ’n derde en vierde kans ook te gee.”

Rita Erasmus huil Vrydag bitterlik ná die moord op haar goeie vriendinne, Lizette Deacon en haar ma, Hettie. Foto: Deaan Vivier

Rita Erasmus, nog ’n goeie vriendin van Lizette, sê hulle het vanaf 1985 saam skoolgegee.

“Lizette was ’n vrolike mens, almal het van haar gehou en sy was avontuurlustig. Sy het alles uit die lewe gehaal,” sê Erasmus. Sy sou nooit kon raai toe sy Woensdag by haar vriendin se restaurant ingeloer het, dit die laaste keer sou wees dat hulle mekaar gesien het nie.

Sy het Vrydag bitterlik gehuil met die opkoms van sowat 500 mense by die restaurant in die Mall of the North waar proteas, rose, aronskelke en boslelies by ’n foto van Lizette en Hettie neergesit is.

Lizette veral was lief vir sport en het uitgeblink in tennis.

Sy was vanjaar die tweede beste vrouerolbalspeler in Limpopo.

Lizette Deacon (55) en Christo van der Merwe, ’n vriend van haar, het saam rolbal gespeel in Polokwane.

Albei het diep spore in hul gemeenskap getrap en was vol lewenslus. Stilsit was nie iets wat hulle kon doen nie, sê hul vriende.

“Lizette en Hettie is nou daar in die hemel, en as hulle vir ons ’n boodskap kon stuur, sou dit wees om nou net aan God vas te hou,” sê Van Staden.

Die Deacon-familie het gesê ’n gedenkdiens sal Dinsdag in die NG kerk Pietersburg-Noord om 11:00 gehou word.

Erasmus sal die orrelbegeleiding verskaf en haar man, ds. Dopper Erasmus, sal die diens behartig. Die diens sal ook aanlyn gevolg kan word.

Die twee vermeende moordenaars sal ook Dinsdag in die landdroshof in Polokwane op aanklagte van moord verskyn.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.