Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Moenie vals sake aanmeld, waarsku polisie

Mense wat vals misdaadsake aanmeld, kan hulle aan die verkeerde kant van die gereg bevind en selfs tronk toe gaan.

Die polisie in Port Elizabeth het dié ernstige waarskuwing gerig nadat verskeie vals aanklagte van kapings in die stad aanhangig gemaak is.

In een van dié gevalle is Gabriel Boitumelo (53) van KwaZakhele in November skuldig bevind aan die aanmeld van ’n vals kapingsaak en die aflê van ’n vals beëdigde verklaring.

Hy is op 19 November tot 100 dae tronkstraf of ’n boete van R2 000 gevonnis.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, sê Boitumelo het die “kapingsvoorval” op 19 April aangemeld.

Volgens hom het twee gewapende mans hom by ’n verkeerslig op die hoek van Uitenhage- en Chattyweg gedreig en sy Toyota Corolla gekaap.

Boitumelo het beweer die kapers het hom kort hierna uit die motor gestamp, waarna hy tot by die KwaZakhele-polisiekantoor gestap het om die voorval aan te meld.

Die polisie se ondersoek het egter aan die lig gebring dat Boitumelo se weergawe van gebeure en waar die gekaapte motor teruggevind is, nie ooreenstem nie.

Dit het later geblyk dat Boitumelo weens persoonlike omstandighede gejok het oor die voorval. Hy is kort daarna deur die polisie aangekla.

In nóg ’n onlangse voorval het Sinoxolo Mbuthuma (28) van Motherwell in Port Elizabeth op 3 November ’n kapingsvoorval by die polisie aangemeld.

Mbuthuma het beweer sy Volkswagen Polo is in Motherwell gekaap. Die polisieondersoek het egter getoon dat hy eintlik in ’n botsing met ’n bus was en dat die Polo ’n maatskappymotor is.

Mbuthuma is ook deur die polisie aangekla en reeds skuldig bevind. Hy sal op 13 Desember weens die aflê van ’n vals polisieverklaring gevonnis word.

Naidu sê sowat twee weke gelede het die polisie in New Brighton ook ’n geval gehad waar ’n man beweer het dat sy Opel Corsa gekaap is. Die polisie het later vasgestel die klaer se motor staan steeds in dieselfde parkeerterrein waar hy dit vyf uur tevore gelos het.

Dié klaer het later erken hy was dronk en het in sy motor geslaap terwyl booswigte sy motor gestroop het.

Naidu sê die klaer het ook erken hy wou die saak aanmeld vir ’n versekeringseis, maar het van plan verander voor hy ’n amptelike verklaring by die polisie afgelê het.

Naidu sê die ondersoek van kapings word deur ’n gespesialiseerde taakspan behartig wat lang ure, baie hulpbronne en mannekrag verg, en hulle kan nie bekostig om dié waardevolle hulpbronne op vals klagte te vermors nie.

Thembisile Patekile, bevelvoerder van die Mountweg-polisiegebied, sê die polisie sal nie huiwer om mense in hegtenis te neem as hule vals sake aanmeld nie.

Patekile sê vals sake het ook ’n inpak op misdaadstatistieke omdat dit ’n onakkurate prentjie van misdaad in ’n sekere gebied skep.

Meer oor:  Gabriel Boitumelo  |  Waarskuwing  |  Vals Misdaadsake  |  Polisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.