Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Monsters’ se gruweldade skok premier

Die Vrystaatse premier was Donderdag geskok oor die gruweldade deur bendes in die Caleb Motshabi- informele nedersetting by Bloemfontein, waar “monsters” reeds vyf mense die afgelope tyd lewend verbrand het.

Die geweld hier is buite beheer en menselewens is niks werd nie, het Sisi Ntombela gesê.

Sisi Ntombela, Vrystaatse premier (regs), hou haar hand geskok voor haar gesig, terwyl Boy Kopane (links), ’n inwoner, haar inlig oor die bendegeweld in die Caleb Motshabi- informele nedersetting waar mense lewend verbrand word. Twee Vrystaatse LUR’e, Sam Mashinini van polisie, paaie en vervoer en Oupa Khoabane van samewerkende regering en tradisionele sake (munisipaliteite) in die ligpers baadjie, kyk toe.Foto: Mlungisi Louw
Sisi Ntombela, die Vrystaatse premier, wat saam met haar kabinet die verarmde Caleb Motshabi- informele nedersetting by Bloemfontein besoek het.Foto: Mlungisi Louw

Bykans al haar LUR’e, onder wie Sam Mashinini, ANC-voorsitter en LUR vir polisie, paaie en vervoer, het die gebied saam met haar besoek.

Mashinini het gesê hy gaan met genl. Khehla Sitole, die nasionale polisiekommissaris, praat om die gebied tot ’n brandpunt te verklaar.

Volgens Ntombela is boendoehof-bedrywighede, mense wat lewend verbrand word, dwelmverslawing onder skoolkinders, waar feitlik niemand meer skoolgaan nie maar bedags ndanda lê en rook, aan die orde van die dag.

Ntombela het gesê die kinders moet teruggaan skool toe.

Daarom is die voltooiing van die Laerskool Thuto Ke Thebe, wat sedert 2016 nie klaarkom nie, ’n prioriteit vir die Vrystaatse regering, het sy gesê.

“Ons sal seker maak dat bouwerk aan die skool in Oktober hervat word, en in Mei volgende jaar moet die leerlinge hier begin skoolgaan.”

Lede van die gemeenskap in die Caleb Motshabi- informele nedersetting by Bloemfontein wys die Vrystaatse politici hoe belangrik dit is dat die Laerskool Thuto Ke Thebe, wat van 2016 halfgebou is, voltooi word.Foto: Mlungisi Louw

Oor die klagtes van die subkontrakteurs van die skool dat nog R3,8 miljoen aan hulle verskuldig is, het adv. Tsoarelo Malakoane, hoof van die Vrystaatse onderwysdepartement, gesê gesprekke sal Vrydag met hulle gevoer word. Dispute sal besleg word sodat hulle betaal kan word.

“Maar dit is veral die kinders wat hier moet wen. Hulle moet terugkeer skool toe,” het hy gesê.

Malakoane het erken die naaste skool is in Lourierpark wat ver en gevaarlik vir die verarmde gemeenskap se kinders is om heen te loop.

Ntombela het gesê in Caleb Motshabi gaan kinders van 12 tot 19 jaar oud, wat nog op die skoolbanke hoort, nie meer skool toe nie. Hulle het in “monsters” verander.

Die onvoltooide skoolgebou in Caleb Motshabi wat al sedert 2016 halfgebou staan.Foto: Mlungisi Louw
Sisi Ntombela, Vrystaatse premier, wil Caleb Motshabi- informele nedersetting stabiliseer en toesien dat kinders weer skool toe gaan. Foto: Mlungisi Louw

Eiereg word gebruik en mense word verbrand.

Die grasvlaktes wat op plekke swart verbrand is, getuig van die gruweldade wat hier gepleeg is.

Ntombela het gesê die meeste inwoners het elektrisiteit en water, en in Caleb Motshabi is Hop-huise, terwyl ander inwoners vir hulle steenhuise bou.

“Dit lyk tog of hier ’n bietjie geld is, maar die probleem is veiligheid. Dit is waarom ek die polisie ingebring het om patrollies te ry.

“Ek sal ook met die Mangaung-metro praat om hierdie vuil gebied skoon te maak en die grond op die oop stukke veld gelyk te maak sodat misdadigers nie daar kan skuil nie.”

Mashinini het gesê die gemeenskap moet ook help om bendegeweld in die kiem te smoor.

“As jy ’n kind het wie se gedrag verdag voorkom, sê vir ons sodat ons jou kan help. Die polisie en die gemeenskap moet hande vat om bendegeweld uit te roei.”

Sisi Ntombela, die Vrystaatse premier, en Mathabo Leeto (regs), LUR vir sport, kuns, kultuur en rekreasie, op besoek aan die Caleb Motshabi- informele nedersetting by Bloemfontein.Foto: Mlungisi Louw
Die gemeenskap van die Caleb Motshabi- informele nedersetting is geskok oor die bendegeweld wat hier handuit geruk het. Die Vrystaatse regering het die gemeenskap besoek nadat vyf inwoners onlangs hier lewend verbrand is. Foto: Mlungisi Louw
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.