Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Moord aan die toeneem in Wes-Kaap

Moord, gesinsgeweld en geweld teenoor vroue is steeds die misdaad wat die meeste in die Wes-Kaap voorkom.

Dié inligting het Vrydag in Pretoria na vore gekom op ’n mediakonferensie van Bheki Cele, minister van polisie, oor die jongste misdaadstatistieke.

904 mense is in die eerste drie maande van die jaar in die Wes-Kaap vermoor. Dit is ’n 2,7%-styging teenoor die 880 gevalle in dieselfde tydperk verlede jaar.

Die nasionale moordsyfer het ook met 8,4% tot 4 976 gestyg vir die drie maande van 1 Januarie tot einde Maart.

Wes-Kaap lê vierde op die ranglys van meeste moorde.

Cele sê die toename in moorde is kommerwekkend, maar dat die voorvalle van verkragting gestabiliseer het.

Die meeste van die mense is vermoor tydens argumente/bakleiery, bendeverwante voorvalle of teistering, roof of wraaksug.

Die vyf polisiekantore in die Wes-Kaap waar die meeste moorde aangemeld is, is Khayelitsha (61), Mfuleni (56), Kraaifontein (47), Delft (46) en Nyanga (43). Moorde het by elke kantoor toegeneem, behalwe by Nyanga, waar daar drie minder moorde aangemeld is.

Cele het uitgevaar oor die stilswye van die samelewing oor die moord op 24 polisiebeamptes, van wie 11 aan diens was. Van dié 24 was vier in die Wes-Kaap, van wie twee lede wat aan diens was toe hulle vermoor is.

Plaasmoorde:

Op plase in die Wes-Kaap is daar twee moorde gepleeg van Januarie tot einde Maart, wat ’n toename is teenoor die vorige tydperk, toe daar geen moorde was nie.

Verkragtings:

Volgens die polisie se syfers is daar 9 518 gevalle van verkragting landwyd van Januarie en einde Maart aangemeld. Dit is ’n daling van 4% teenoor die ooreenstemmende tydperk verlede jaar, en dui volgens Cele op ’n stabilisering ’n die situasie, selfs in die Wes-Kaap, waar daar 1 094 verkragtings aangemeld is. Dis is ’n afname van 56 voorvalle.

Die meeste van dié voorvalle, 462, het by die slagoffer of verkragter se huis plaasgevind. 132 voorvalle het in openbare plekke soos velde, strande of verlate geboue plaasgevind.

Die polisiekantore in die Wes-Kaap waar die meeste verkragtings aangemeld is, is Harare (53), Delft (52), Khayelitsha (42), Nyanga (40) en Mfuleni (39).

Gesinsgeweld:

Gesinsgeweld steek nog lelik kop uit met 88 vroue wat vermoor is teenoor 87 mans.

Daar is 457 vroue en 24 mans verkrag.

Altesaam 3 593 vroue is aangerand met die doel om ernstig te beseer teenoor 1 488 mans.

Luidens die statistieke is 9 399 vroue aangerand (gewone aanranding) en 2 948 mans.

Daar is gepoog om 86 vroue te vermoor, teenoor 38 mans.

Tussen 1 Januarie en die einde van Maart is 2 378 van dié mense op openbare plekke soos strate, oop stukke grond, parke, strande en verlate geboue vermoor.

Kapings:

Voertuigkapings in die Wes-Kaap het toegeneem met 80 meer voorvalle wat aangemeld is as in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar. In hierdie tyd is 600 gevalle aangemeld en die polisiekantore waar die meeste voorvalle aangemeld is, is Nyanga (107), Harare (55), Delft (50), Philippi-Oos (49) en Gugulethu (39).

Huisbrake:

Baie meer huisbrake het plaasgevind met ’n toename van 505 tot 718 voorvalle.

Transitorooftogte:

Transitorooftogte het gedaal na een voorval wat aangemeld is, maar die kaping van vragmotors het met 20 voorvalle toegeneem. In die ooreenstemmende tydperk verlede jaar is daar 19 voorvalle aangemeld.

Veediefstal:

Hoewel veediefstal ’n groot kopseer in die meeste van die ander provinsies is, is daar 184 voorvalle in die Wes-Kaap aangemeld. Dit is ’n afname van 231 voorvalle teenoor die vorige jaar. In die Oos-Kaap is 1 493 voorvalle aangemeld, in KwaZulu-Natal 1 448 en in die Vrystaat 740.

Meer oor:  Misdaadstatistiek  |  Bheki Cele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.