Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Moord by N1 City: ‘Nog sluipmoorde gaan volg’
Die moordtoneel waar Tim Lotter Sondag geskiet is.

Die sluipmoord op Tim Lotter van die veiligheidsmaatskappy Extreme Measures “gaan tot ’n bloedbad op die Kaapse Vlakte lei”, het sleutelfigure in die Kaapse onderwêreld Maandag opnuut gewaarsku.

Enkele ure nadat Lotter (47) Sondag helder oordag by die N1 City-winkelsentrum in Goodwood in sy wit Ford Ranger-bakkie doodgeskiet is, was die polisie druk besig om leidrade op te volg om sy moordenaars aan te keer.

Tim Lotter van die veiligheidsmaatskappy Extreme Measures.

Bronne uit die Kaapse onderwêreld het Maandag gesê dié sluipmoord sal nie die laaste een wees nie.

“Dié gaan ’n bloedige geveg wees. Dis nie net oor die beheer van die veiligheidsbedryf nie, maar oor die beheer van al die klubs, die dwelmbedryf en ander vermaaklikheidsondernemings. Aan die einde van die dag het Lotter met die verkeerde mense vyande gemaak,” sê een van die sleutelfigure.

Bronne uit die veiligheidsbedryf wat ook anoniem wou bly, sê Lotter het die verkeerde sakevennoot gekies en sy rug op bekende bendeleiers gedraai.

Uit ander bende-oorde word gesê die aanval hou verband met die veiligheidskontrak vir ’n bekende strand-restaurant in die V&A Waterfront wat Lotter eers gehad het, terwyl ander meen dit was vergelding vir die moord op die bekende regsman adv. Pete Mihalik op 30 Oktober 2018, ’n hanetree van sy kinders se skool in Groenpunt.

Uit Hard Livings-bende-kringe word berig dat die moord verband hou met die sluipmoord op Rashied Staggie, stigterslid en leier van die berugte Hard Livings-bende, asook op Tauriq “Ballie Tips” Solomons, vermeende leier van die Hard Livings-bende in Westridge, wat in afsonderlike voorvalle albei in Desember verlede jaar doodgeskiet is.

Toe reeds is gewaarsku oor ’n bloedbad op die Kaapse Vlakte.

Lees ook: Bloedbad op Vlakte verwag ná Staggie se dood

“Soos by Lotter is daar sprake dat ook Staggie nuwe bande gesmee het om die nagklub-afpersingbedryf oor te vat,” word uit Hard Livings-bende-kringe gehoor. Kapt. Frederick van Wyk, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, sê die omstandighede van die skietvoorval waartydens ’n 47-jarige man noodlottig gewond is, word ondersoek.

 “Speurders volg alle leidrade op. Enigiemand met enige inligting oor hierdie voorval word versoek om die ondersoekbeampte, lt.kol. Charl Kinnear, te kontak by 071 673 1575 of die polisie se Stopmisdaadnommer by 08600 10111 te skakel,” sê Van Wyk.

Meer oor:  Sluipmoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.