Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Juwelier soek ná dubbele moord

Die polisie het ’n verdagte geïdentifseer weens die moord op ’n afgetrede predikants­egpaar van Bethal wie se liggame in hul motor se kattebak gevind is.

Francois Pretorius, wat gesoek word weens die dubbele moord.

Hy is Francois Pretorius, ’n juwelier en glo ’n lidmaat van die Hervormde kerk Morgenzon waar dr. Hannes Beukes (69) ’n deeltydse leraar was.

Hannes en sy vrou, Ibel (67), ’n oudonderwyseres, se lyke is Woensdag in hul Mitsubishi-nutsvoertuig in ’n rietbos langs die Bethaldam gevind.

“Volgens inligting tot die polisie se beskikking het die oorledenes die dag van die moorde ’n afspraak met mnr. Pretorius gehad,” het konst. Thomas Mogadime, woordvoerder van die Bethal-polisie, gesê. “ ’n Rusie het ontstaan.”

Francois Jordaan (58), ’n hegte vriend van die egpaar, het Saterdag aan Rapport gesê die motief vir die moorde is ’n raaisel. “Al wat ons weet, is dat hulle erg verniel en seergemaak is. Daar is sny- en skaafwonde aan hulle. Hulle is ook met ’n stomp voorwerp geslaan.

Basies net Ibel se ringe is gevat en ’n paar kleinighede. Altwee se selfone en haar handsak was steeds in die kar.”

Mogadime sê items wat in Pretorius se huis gevind is, is soortgelyk aan dié wat by die egpaar gesteel is.

Jordaan se vennoot het die Mitsubishi intussen by die polisie gaan haal. “Daar was min bloed in die kar, wat mens laat dink dat die moordtoneel dalk elders was, maar ons kan nie dit vir ’n feit stel nie.”

Jordaan en sy vermoorde vriend het Sondag nog met mekaar gepraat. Hy sê die Beukes-egpaar se laaste stop sover bekend was by ’n plaaslike materiaalwinkel.

Sy lewenstaak was die kerk se kategese-boekies.

“Hulle was ongeveer 10:00 Dinsdagoggend by die winkel. Daarna is op ’n buurman se veiligheidskamera by sy huis opgemerk dat hulle 14:00 by hul huis ingery het en weer 15:00 gery het. Ná dit is hulle nie weer lewend gesien nie,” sê Jordaan. Volgens hom kan ’n mens nie op die videomateriaal sien of enigiemand anders saam met hulle in die motor was nie.

Die gemeenskap is diep geskok oor die wreedaardige moorde op twee steunpilare van die dorp.

Om sake te vererger, gaan die Beukes-egpaar vir eers nie met ’n gedenkdiens gegroet kan word nie.

Andries Beukes, die egpaar se oudste seun, het gister aan Rapport gesê nie een van die kinders kan weens die Covid 19-epidemie na Suid-Afrika reis nie en het daarom besluit om die gedenkdiens uit te stel. Hy sê die egpaar het vriende en familie in Amerika, Brittanje, die Verenigde Arabiese Emirate en Italië.

“Ons ouers was geliefd oor die wêreld. Ons wil graag ons dank uitspreek aan almal wat ons deur die moeilike tyd bystaan. Ons sal verskeie kommunikasiekanale gebruik om vriende en familie in kennis te stel wanneer ons meer sekerheid het oor ’n datum waarop ons ons geliefde ouers se liggame ter ruste kan lê.”

Jordaan sê sy vermoorde vriend was nie net ’n dominee nie, maar ’n ware vriend met ’n sin vir humor.

“Hannes het altyd gesê ek beter voor hom doodgaan, want geen ander predikant sal my begrawe nie.

“As ek by sy huis ingestap het, het sy vrou nie vir ons koffie gemaak nie, maar sommer vir ons ’n whisky geskink.

“Hannes het al twee keer vir gemeentelede van die kansel af gesê die vreemde man wat sy vrou die vorige aand rondgery het, was ek,” lag ’n bewoë Jordaan.

Hy sê sy vriend het teen 1990 na Bethal verhuis en die Moedergemeente van die Hervormde Kerk as leraar begin dien.

“Hy het elke Sondag eers in Bethal gepreek en is daarna na Morgenzon. Die laaste drie jaar wat hy afgetree het, het hy oorwegend in Morgenzon gepreek.”

Wilco Beukes (72), Hannes se ouer broer wat in die Lichtenburg-omgewing boer, sê sy broer gaan gemis word op ’n persoonlike vlak, maar ook in kerkkringe. “Sy lewenstaak was die kerk se kategese-boekies. Hy was die nasionale redakteur daarvan.”

Die egpaar se een seun is ’n paar jaar gelede in ’n motorongeluk buite Bethal dood.

* Mogadime het gevra enigiemand wat weet waar Pretorius is, moet die ondersoekbeampte, ao. Veldman, by 079 396 3652 bel.

Meer oor:  Hannes Beukes  |  Ibel Beukes  |  Francois Pretorius  |  Bethal  |  Predikant  |  Moord  |  Egpaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.