Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Moord: Internasionale lasbrief vir tuinwerker uitgereik
Die vermoorde André Saaiman en sy vrou, Lidia. Foto: Argief

Meer as twee jaar nadat ’n egpaar in Port Elizabeth vermoor is, is ’n internasionale lasbrief vir die inhegtenisneming van hul Mosambiekse tuinwerker uitgereik.

Ezequiel Carlos Cossa (26) is glo onlangs verbind met die moordtoneel in Scottstraat, Somerstrand, waar André Saaiman (65) en sy vrou, Lidia (69), vermoor is.

Adv. Marius Stander, staatsaanklaer, wou nie presies sê hoe hy met die moordtoneel verbind word nie, maar het wel gesê: “Vir ons om ’n internasionale lasbrief te bekom beteken ons saak is reg.”

Leandra Pickard, die vermoorde egpaar se dogter, het op Facebook geskryf: “So so so dankbaar!!! Uiteindelik gebeur iets, ek weet hy gaan gevang word.”

Cossa het blykbaar nog tot die moord op die egpaar in ’n woonwa op hul erf gewoon, maar sedertdien nie weer teruggekeer nie. Sy pa het ook glo voorheen vir die Saaimans gewerk.

Die egpaar se lyke is op 6 November 2017, sowat ’n meter uit mekaar, op die vloer van hul studeerkamer aangetref.

Die vermoorde André Saaiman en sy vrou, Lidia. Foto: Argief

Volgens die polisie se inligting was albei se hande met kabelbinders vasgebind. ’n Bebloede byl, wat vermoedelik aan André behoort het, het naby hulle gelê.

Hy is glo met die byl teen die kop geslaan, terwyl sy vrou vermoedelik met kabelbinders verwurg is.

Volgens die lykskouing was hulle reeds ’n dag lank dood voordat hul lyke ontdek is.

’n Nutsman het alarm gemaak toe hy die betrokke Maandagoggend geen antwoord by die egpaar se voordeur gekry het nie. Die polisie het die huis in ’n warboel aangetref en die egpaar se lyke agter ’n geslote studeerkamerdeur gevind.

Die deur van Cossa se woonwa het oopgestaan, en die ligte en televisie was aan.

Die polisie het toe gesê dat selfone, geld en ’n .38-rewolwer gesteel is.

Volgens Stander het dit in November 2019 duidelik geword dat Cossa die hoofverdagte in die saak is. Daar is toe met die proses begin om ’n internasionale lasbrief te bekom.

Dit is onbekend of Cossa in Suid-Afrika of in sy geboorteland is.

Stander sê die lasbrief is wêreldwyd uitgestuur met Interpol wat in die soektog help. Dit beteken dat Cossa deur enige polisieowerheid wat hom vind, aangekeer kan word, sê Stander.

Die vermoorde Saaiman-egpaar se huis in Scottstraat, Somerstrand. Foto: Argief

Indien hy wel in die buiteland vasgetrek word, sal ’n aansoek gebring word om hom aan Suid-Afrika uit te lewer, waarna hy waarskynlik in Port Elizabeth in die hof sal verskyn.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder in Port Elizabeth, het intussen gesê ’n nuwe ondersoekbeampte het die saak oorgeneem. Die beampte sal binnekort na Pretoria reis om met Interpol-beamptes te vergader.

Naidu sê hoewel die soektog nou internasionaal uitgebrei het, bestaan die moontlikheid dat Cossa weer terug in Suid-Afrika is.

Enigiemand met inligting oor waar Cossa hom bevind, word gevra om speur-ao. Johan Raubenheimer by 074 430 6048 te bel.

Meer oor:  Port Elizabeth  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.