Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Bafana-kaptein: Wapen ‘met moord verbind’
Senzo MeyiwaFoto: Wires

Een van die vyf mense wat Maandag in hegtenis geneem is in verband met die moord op die voormalige Orlando Pirates- en Bafana-Bafana-kaptein Senzo Meyiwa, het moontlik self die sneller getrek.

Bheki Cele, minister van polisie, het dié aankondiging Maandag in Pretoria gemaak presies ses jaar nadat Meyiwa op 26 Oktober 2014 tydens ’n rooftog in ’n huis in Vosloorus aan die Oos-Rand doodgeskiet is.

“Die moord het ondraaglike pyn vir sy familie veroorsaak. Mense vanoor die hele Afrika was geskok. Daar was uit alle oorde oproepe dat geregtigheid moet geskied.”

Genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, het op die mediakonferensie gesê ’n vuurwapen waarop die polisie beslag gelê het, word reeds ballisties met die moord verbind. Die wapen is nou eers gevind en is een van die belangrikste nuwe bewysstukke in die saak.

Sitole het gesê die vyf verdagtes verskyn Dinsdag in die landdroshof in Boksburg, maar dat die aanklagte nog aan hulle gestel moet word en dit dus nie nou al bekend gemaak kan word nie.

“Die ondersoek is ook nog aan die gang en ons verwag meer inhegtenisnemings. Sommige van die verdagtes was reeds in hegtenis vir ander sake. Dis ’n ingewikkelde saak en baie verskillende ondersoektegnieke is ingespan.”

Sitole het ook verklap dat drie van die mense wat vasgetrek is, nie noodwendig in die huis was toe die moord gepleeg is nie.

Meyiwa se familie het AfriForum in 2019 genader om te help met die ondersoek na sy dood uit frustrasie oor ’n oënskynlike gebrek aan vordering. Meyiwa se broer, Sifiso, het op ’n mediakonferensie in Desember 2019 gesê hy het groot bewondering vir adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se private vervolgingseenheid.

Die ondersoek is ook nog aan die gang en ons verwag meer inhegtenisnemings. Sommige van die verdagtes was reeds in hegtenis vir ander sake. Dis ’n ingewikkelde saak en baie verskillende ondersoektegnieke is ingespan.

Sifiso het gesê hy het onder meer die Oscar Pistorius- en Jackie Selebi-sake gevolg waar Nel die aanklaer was, en het gesien waartoe hy in staat is. Nel het toe nog vir die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gewerk.

Nel het die NVG in Desember 2019 namens Meyiwa se familie versoek om sy dood formeel te ondersoek.

Cele het op die mediakonferensie Maandag gesê die

polisie en NVG het saamgewerk in die ondersoek na die moord en dat hulle ’n “waterdigte” saak het.

Die vyf mense is in onderskeidelik Gauteng en KwaZulu-Natal in hegtenis geneem is. Cele het die media gewaarsku om nie gerugte te versprei nie omdat dit die saak kan benadeel en dit tot allerlei bespiegelinge lei.

“Van hierdie sogenaamde uitgelekte inligting was juis daarop gemik om die ondersoek te ontspoor. Ons oorweeg selfs ’n saak of sake van dwarsboming van die gereg (teen diegene wat hulle hieraan skuldig gemaak het) om te voorkom dat dit weer gebeur. Ondanks kritiek teen die polisie was ek nog altyd vol vertroue dat die ondersoek goed vorder en die skuldiges toe verantwoording geroep sal word.”

Cele het gesê die polisie se eenheid wat spesifiek met ouer sake werk, het die moord op Meyiwa begin ondersoek maande nadat die eenheid in 2018 gestig is. “Hulle het sedertdien onverpoos aan die saak gewerk.”

• AfriForum en Sifiso hou later Maandag ’n mediakonferensie in Pretoria waartydens hulle kommentaar op die deurbraak sal lewer.

Meer oor:  Moord  |  Bafana-Kaptein  |  Senzo Meyiwa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.