Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Moord op boer: Deurbraak kom

Die polisie is op die punt van ’n groot deurbraak in die ondersoek na die opspraakwekkende moord op die Stellenbosse wynboer Stefan Smit.

Stefan Smit

“Die hout is gepak – dit kos net ’n vonk om dit aan die brand te steek,” het ’n bron baie na aan die ondersoek vroeër die week aan Rapport gesê. Minstens vier verdagtes is in die visier, word gesê.

Smit, wat op die plaas Louisenhof net buite Stellenbosch geboer het, was ten tyde van sy dood onder beleg van grondgrypers wat die plaas Watergang, wat ook aan hom behoort het, ingeneem het. Smit het suksesvol aansoek gedoen vir ’n interdik om die plakkers te verwyder, maar omdat hy gewelddadige protes in die strate van Stellenbosch wou verhoed, het hy ingestem om sy grond aan die munisipaliteit vir behuisingsdoeleindes te verkoop.

Voordat die koop kon deurgaan, is die 62-jarige Smit egter op Sondag 2 Junie in die eetkamer van sy gewelhuis op Louiesenhof deur onbekende aanvallers doodgeskiet. Smit, sy vrou, Zurenah, en ’n 71-jarige vroulike gas, wat nie geïdentifiseer wil word nie, het pas hul aandete geëet toe die aanvallers instorm.

Lyfwag se verklaring verskil glo van die gas s’n.

Smit, wat al voorheen met die dood gedreig is, se veiligheidshoof en twee lyfwagte was ten tyde van die aanval in ’n buitekamer wat aan die huis grens. Die kamer het twee deure – ’n buitedeur asook een wat na die hoofhuis lei. Hulle het na bewering glad nie die skote gehoor nie.

Twee maande later is niemand nog in verband met die moord in hegtenis geneem nie, maar Rapport verstaan die ondersoekspan het reeds ’n dossier aan die direkteur van openbare vervolging in die Wes-Kaap voorgelê. Senior aanklaers het leemtes in die dossier uitgewys en dit na die ondersoekspan terugverwys.

Die ondersoek word gelei deur een van die Boland se topspeurders, sers. Stephen Adams, wat die afgelope paar jaar saam met sy voormalige kollega sers. Marlon Appollis betrokke was by talle suksesvolle vervolgings in verskeie hoëprofielsake.

Zurenah Smit

Smit en Zurenah was albei voorheen getroud. Die oud-polisiekaptein Bradley van Eyslend, wat die hoof van die veiligheidsmaatskappy op Louiesenhof was, is aanvanklik deur Smit gevra om ’n veiligheids­assessering van die plaas te doen.

Rapport het vasgestel dat Van Eyslend se kontrak met Smit etlike duisende rande per week beloop het.

Smit het Van Eyslend ná die plaasbesettings aangestel as lyfwag, maar wou glo voor sy dood die kontrak beëindig omdat hy dit nie meer kon bekostig nie. Hy het daarteen besluit nadat daar vanaf die R304-verbypad op sy huis geskiet is en buitebande in nog ’n voorval voor sy hek aan die brand gesteek is.

Koerante het destyds berig dat daar vier aanvallers met klapmusse was. Dit blyk nou dat daar net drie aanvallers met goedkoop maskers was, bronne sê “die soort wat jy by R5-shops koop”. Zurenah het blykbaar later aan die polisie gesê die mombakkies het soos “sopbakke” gelyk.

Bradley van Eyslend

Volgens Rapport se inligting wou die egpaar se bejaarde gas glo omstreeks 18:40 vertrek. Zurenah het haar gas tee aangebied, waarna hulle terug is na die eetkamer.

Kort daarna het die aanvallers ingestorm. Smit is deur twee skote in die kop getref – blykbaar vanuit verskillende vuurwapens.

Die aanvallers het die gas se hande glo met dun kabelbinders vasgebind – so dun dat dit gebreek het toe een van die aanvallers haar horlosie probeer steel het.

Van Eyslend het later blykbaar aan die polisie gesê dat hy van die skietery bewus geword het toe iemand aan sy kamerdeur hamer en om hulp skree. Hy het toe die kamer deur die buitedeur verlaat en na die kombuis gehardloop.

Sy verklaring verskil glo van die bejaarde gas s’n wat sê sy het aan Van Eyslend se binnedeur gehamer om sy aandag te trek, waarna hy die huis deur dié deur binnegekom het.

Volgens Rapport se bronne is daar nog “beduidende verskille” tussen die verskillende oogge­tuies oor wat dié aand gebeur het.

Een van die raaisels is waarom die lyfwagte nooit die skote gehoor het nie terwyl ’n student wat in ’n kothuis sowat 300 meter van die hoofhuis af bly, wel ’n skoot gehoor het terwyl hy en ’n vriendin televisie gekyk het.

Rapport verstaan dat lede van die polisie se forensiese laboratorium gevra is om “in die huis te gaan skiet” en klanktoetse te doen om te bepaal hoe ver sulke skote gehoor kan word.

Die polisie kon ook geen aanduidings vind dat iemand met die geëlektrifiseerde heining gepeuter het nie.

Opnames van die kringtelevisie op die werf het ook geen verdagte beweging opgeneem nie.

Die polisie het wel beslag gelê op die selfone van sowel Zurenah as Van Eyslend. Van Eyslend het ’n toepassing op sy foon gehad wat gesprekke opneem, en speurders weet nie net dat hy en Zurenah mekaar gereeld gebel het nie, maar ook presies wat gesê is.

Van Eyslend en sy kollegas het intussen kennis gekry dat hul kontrak beëindig word.

Rapport het reeds vroeër berig dat Smit se testament in Desember verlede jaar verander is. Hiervolgens erf Zurenah feitlik niks, buiten verblyfreg in die Denneoord-aftreeoord in Stellenbosch. Sy eksvrou, Esmé Smit, word trustee van die Watergang-familietrust.

Rapport verstaan dat Zurenah glo haar man se as in Duitsland wil gaan strooi – ’n wens wat hy skynbaar voor sy dood uitgespreek het.

Meer oor:  Bradley Van Eyslend  |  Zurenah Smit  |  Stefan Smit  |  Plaasmoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.