
Genl.maj. André Lincoln, voormalige hoof van ’n presidensiële ondersoekeenheid. Foto: Argief

Lt.kol. Charl Kinnear, wat op 18 September voor sy huis in Sidneyvale, Bishop Lavis, deur ’n onbekende man doodgeskiet is. Foto: Facebook
Genl.maj. André Lincoln, hoof van die Wes-Kaapse teenbende-eenheid, word intern deur die polisie ondersoek weens beweerde versuim om beskerming aan die vermoorde lt.kol. Charl Kinnear te verskaf.
Lincoln is die afgelope week deur die polisie ingelig dat hy ondersoek word weens beweerde wangedrag.
Luidens die kennisgewing wat Donderdag op Lincoln bedien is, is die een klagte teen hom dat hy van 3 September tot 18 September 2020 versuim het om beskerming aan Kinnear te gee.
Die tweede klagte is dat hy nie die Wes-Kaap se polisiehoof, lt.genl. Yolisa Matakata, of die hoof van misdaadintelligensie ingelig het oor ’n moontlike dreigement (teen Kinnear se lewe) nie en derhalwe nie die provinsiale hulpbronne tot sy beskikking gebruik het nie.
Kinnear is op 18 September 2020 voor sy huis in Gearingweg, Sidneyvale, Bishop Lavis deur ’n onbekende man in ’n rooi kappietop doodgeskiet.
Hy is meer as vyf keer raakgeskiet. Die meeste van die skote was in sy bolyf. Hy het op die toneel in sy voertuig aan sy wonde beswyk. Sy gemaskerde moordenaar het daarna in die rigting van die Malawi- informele nedersetting wat langs Bishop Lavis geleë is, gevlug.
Kinnear was een van die speurhoofde by die teenbende-eenheid en Lincoln was sy regstreekse hoof.