Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Moord op onderwyseres: Student (24) aangekeer

’n 24-jarige manlike onderwysstudent aan die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (KSUT) is vir die moord op die onderwyseres Allison Plaatjies (26) in hegtenis geneem.

Plaatjies se lyk is Sondag in haar woonstel in Clanwilliam gevind nadat sy vermoedelik reeds Saterdag vermoor is.

Daar was glo geen gedwonge toegang tot haar woonstel nie.

Die man wat in hegtenis geneem is, is glo bekend aan haar. Hy is Sondag deur die verkeerspolisie in Citrusdal vir bestuur onder die invloed van drank en bestuur sonder ’n rybewys in hegtenis geneem. Hy het glo met Plaatjies se motor gery.

’n Bron het gesê daar is sedert Saterdag gesien hoe hy met Plaatjies se motor rondry. Sy was nie saam met hom nie.

Volgens ’n bron is hy Maandagaand in hegtenis geneem.

Plaatjies en die man ken mekaar glo die afgelope drie jaar. Hulle het mekaar volgens haar ma op KSUT se Wellington-kampus ontmoet waar hulle albei onderwys studeer het.

Plaatjies se lyk is Sondagaand kort na 19:00 in haar woonstel in Katjiepieringstraat, Clanwilliam, gevind.

Haar keel is glo met ’n skerp voorwerp afgesny en sy het ook veelvoudige meswonde gehad.

Allison Plaatjies se lyk is Sondag in haar woonstel in Clanwilliam gevind. Sy is vermoor. Foto: Allison Plaatjies/Facebook

Plaatjies, wat oorspronklik van Swellendam is, het in Januarie vanjaar by die Sederberg Primêre Skool in Clanwilliam begin skoolhou, waar sy Afrikaans vir gr. 5-leerlinge gegee het.

Sy het verlede jaar aan KSUT gegradueer.

Plaatjies se ma, Yvonne Plaatjies, het Dinsdag gesê die man wat in hegtenis geneem is, se ma het haar Sondag kort na 20:00 gebel.

“Sy het gebel en gesê sy het slegte nuus oor Allison.”

Yvonne sê dat sy aanvanklik gedink het dat Plaatjies in ’n motorongeluk betrokke was omdat sy haar eie voertuig het.

“Ek het haar gevra of Allison in ’n ongeluk was. Sy het lank stilgebly. Ek het haar weer gevra of sussie in ’n ongeluk was.”

Yvonne sê vriende en familielede noem Allison “sussie”.

Die ander vrou het toe aan Yvonne gesê dat Allison se lyk in haar woonstel gevind is.

“Sy het gesê dat sy ons Maandag weer sou bel met nog nuus.”

Yvonne het toe haar broer gebel. Hy is na die Swellendam-polisiekantoor waar hy die polisie gevra het om die Clanwilliam-polisie te bel.

“Die Clanwilliam-polisie het bevestig dat sy vermoor is en dat haar nek gesny is.”

Sy sê hulle was Maandag in Clanwilliam, maar hulle het nog niks verder wys geword nie.

Hulle het Maandagaand na Swellendam teruggekeer om met die begrafnisreëlings te begin.

“Sy is my enigste dogter. My glimlagkind.”

Siyabulela Malo, polisiewoordvoerder, het bevestig dat ’n 24-jarige man in hegtenis geneem is. “Die man sal in die hof verskyn sodra hy aangekla is.”

Meer oor:  Allison Plaatjies  |  Moord  |  Onderwyseres
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.