Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Moord op skrywer: Bure ‘hoor geluide’

Kaapstad. – Minstens vier mense het Woensdagmiddag geluide gehoor uit die huis in Derde Laan, Uitsig, op Wellington waar die lyk van die skrywer Winnie Rust (77) gevind is.

“Ons het harde geluide gehoor wat uit die huis gekom het. Ek wil egter nie verder daaroor uitbrei nie omdat die saak nog ondersoek word,” het Elsibe Loubser (47), ’n buurvrou, Donderdag vertel.

Volgens haar was sy en haar man en drie ander mense eergister tuis toe die voorval gebeur het.

Dr. Manie Rust (87) het op sy vrou se lyk in die kombuis afgekom toe hy omstreeks 15:30 wakker geword het van die hekklokkie wat gelui het.

Haar hande en voete was vasgebind en sy het beserings aan haar gesig gehad.

“Wat met Winnie gebeur het, is vir my tragies en baie vreemd. Sy was een van die mees respekvolle en stylvolste mense in die buurt,” het Loubser gesê.

Ondersoekbeamptes en forensiese patoloë staan gister op die perseel waar Winnie Rust, ’n bekende skrywer, se lyk Woensdagmiddag deur haar man op hul kombuisvloer gevind is. Die ingange na die perseel was gister steeds met polisielint afgesper. Foto’s: EDREA DU TOIT

Sy het bygevoeg haar huis is deel van die buurtwag van die woonbuurt en dat sy glad nie onveilig voel nie, “want die buurt se mense kyk uit vir mekaar”.

Volgens Hester de Kock, voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) op Wellington, het Rust die Dinsdag nog ’n vergadering oor veiligheidsmaatreëls in die gebied bygewoon. “Op die vergadering het ek gesê in plaas van die voorgestelde kameras op die straathoeke, moet kameras eerder op die persele aangebring word,” het De Kock gesê.

“In Derde Laan woon baie bejaardes wat bedags alleen in hul huise is omdat die jongmense almal werk. Hoewel die Whats­App-groep baie goed werk, help dit nie as die bejaardes gedurende die dag alleen is nie. Wat sou dit baat as hulle gil of skree?”

Volgens De Kock plaas die tekort aan polisiebeamptes en die nodige hulpbronne groot druk op die polisie. Die GPF en die buurtwag werk egter met die gemeenskap saam om hulle te beveilig, het sy bygevoeg.

Wimpie Havenga (58), ’n buurman, is ’n paar maande gelede deur mans oorval wat geld gesoek het omdat hulle na bewering sy tuin skoongemaak het.

“Ongeag die voorval, voel ek steeds veilig in die buurt. Wat met Winnie gebeur het is tragies, want hulle is goeie mense,” het hy  gesê.

Sy vrou wou nie haar naam gee nie, maar het gesê sy voel glad nie veilig nie. 

“Ons het drie jaar gelede van Johannesburg af hierheen getrek. My man het juis Woensdag nog gesê dat dit soveel veiliger hier as daar is, maar ek dink nie so nie. ’n Mens is nêrens veilig nie, nie eens in jou eie huis nie.”

Sy is die laaste mens met wie so iets moes gebeur en dit maak ’n mens nogal kwaad.

Blou-en-geel polisielint het Donderdag nog die perseel afgesper terwyl ondersoekbeamptes en forensiese patoloë steeds die toneel gefynkam het.

Konst. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, het gesê die polisieondersoek na die moord duur steeds voort en ’n lykskouing word gedoen om die oorsaak van Rust se dood vas te stel. Geen verdagtes is nog in verband met die moord in hegtenis geneem nie.

Intussen is die gemeenskap in rou gedompel oor Rust se dood.

“Sy is die laaste mens met wie so iets moes gebeur en dit maak ’n mens nogal kwaad. Haar sagte manier van omgee het ’n invloed op almal in die dorp gehad, of jy nou wit, swart of bruin is. Sy was ’n steunpilaar en ’n rolmodel,” het Miranda van Breda gesê.

Van Breda het Rust langer as 30 jaar geken. Hulle het ook saam aan ’n boekklub behoort wat Rust getrou bygewoon het.

Nog ’n vriendin, Mellétta Louw, het gesê “daar waar ’n saak is wat die dorp kon bevorder, daar sou jy vir Winnie kry”.

“Sy het ’n fyn oog vir onreg en die beleweniswêreld van die vrou gehad. Sy was nie ’n mens wat op podiums of in koerante oor ’n saak sou veg nie, maar het dit op haar sagte manier op papier neergelê.

“Sy het kinders gehelp om hul skool- en universiteitsgeld te betaal sonder dat enigeen daarvan geweet het, want dit is wie sy was,” het Louw gesê.

Rust word deur haar man, drie dogters – Winnie Nel, Helene Reid en Anna Rust – en ’n seun, Hugo Rust, oorleef.

Meer oor:  Winnie Rust  |  Wellington  |  Vermoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.