Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Moord op skrywer: Sy vrou was op haar knieë in kombuis

Sy het op haar knieë op die kombuisvloer gestaan, terwyl een van die vyf gewapende mans gedreig het om haar te skiet, toe sy ’n skoot hoor klap en Tom langs haar val.

So het Retha Gouws, die skrywer Tom Gouws (56) se vrou, Donderdagoggend vertel nadat Tom die vorige aand omstreeks 20:00 eers met ’n voorwerp oor die kop geslaan en toe van agter deur die hart geskiet is.

“Tom het langs my neergeval en ek het gesien hy is dood.”

Tom Gouws is Woensdagaand koelbloedig in sy huis in die ooste van Pretoria doodgeskiet.Foto:

’n Geskokte maar kalm Retha sê sy en Tom was heeldag in Pretoria. Hulle het Woensdag omstreeks 20:00 tuisgekom.

Hulle woon in die ooste van Pretoria in ’n veiligheidskompleks.

Tom het die voordeur oopgesluit en die egpaar het hulle in vyf gewapende mans vasgeloop.

“Dit het gevoel soos tien sekondes, toe is alles verby.”

Die mans het Retha gedwing om op haar knieë te staan en wou haar hande vasbind.

“Ek het ongelooflik hard geskree. Die mans het Engels met mekaar gepraat en toe vir my gesê as ek nie stilbly nie, gaan hulle my skiet.

“Tom het op ons afgestorm en was vermoedelik bang dat die mans iets aan my sal doen.

“Die volgende oomblik het iemand hom met iets oor die kop geslaan. Toe skiet hulle hom van agter deur die hart. Hy het reg langs my op die kombuisvloer geval.

“Toe Tom val, het die mans weggehardloop.”

Retha vertel die egpaar se jongste seun, Josua (17), was in die boonste vertrek van hul woonhuis. Van die mans het sy hande voor hom vasgebind. Hy het daarin geslaag om weg te kom en het deur die badkamervenster op ’n dak gespring om by die bure te gaan hulp soek.

Toe die mans weg is, het Retha ook na die bure toe gehardloop om Josua te gaan soek. “Ek wou sien of hulle my kind leed aangedoen het.” Die bure het die polisie gebel. “Die polisie was baie gou by die huis,” sê Retha.

Ek wou sien of hulle my kind leed aangedoen het
Retha Gouws

Volgens haar was Tom besig om aan ’n hoofstuk oor die digter Breyten Breytenbach te werk. “Sy rekenaar is gesteel. Ek weet nie eens of die werk waarmee hy besig was, op ’n hardeskyf gebêre is nie.”

Tom se selfoon en haar handsak is ook gesteel.

Tom was die afgelope ruk baie besig met bedieningswerk by New Earth Ministeries.

Al ses die egpaar se kinders, van wie twee in die buiteland is, is op pad terug na Suid-Afrika.

Retha vertel hul seun Tom jr. (30) het Woensdagoggend na Namibië vertrek en het “om ’n vleisbraaivuur” in Etosha gesit toe hy die nuus van sy pa se dood hoor.

Tom jr. is getroud met Danel en hulle het vier kinders.

Die egpaar se dogter Anjo-Marí Gouws (33), wat getroud is met Johannes van der Horst, is in Toronto, Kanada, vir verdere studie.

Margreet Gouws (28) is in Shanghai en Emma-Maryn Gouws (19), hul jongste dogter, het verlede jaar matriek geskryf en vat nou ’n oorbruggingsjaar.  Daniël Gouws (25) is in die bediening by New Earth en ook ’n eiendomsagent.

Josua is in gr. 11 in die Hoërskool Die Wilgers.

Meer oor:  Tom Gouws  |  Rooftog  |  Aanval  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.