Die identiteit van die vierde beskuldige wat na bewering vroeër vanjaar by die moord van ’n dokter van Tulbagh betrokke was, kan nou bekend gemaak word omdat sy Woensdag ’n meerderjarige geword het.
Dr. Roelof Botha se lyk is op 1 Junie omstreeks 18:30 langs die Schalkenbosch-pad buite Tulbagh gekry. Hy is met ’n skerp voorwerp, vermoedelik die lem van ’n skaapskêr, doodgesteek.
Desire Goeieman het Woensdag op haar 18de verjaardag saam met haar medebeskuldigdes, Aiden Abels (27), Justin Adonis (30) en André Gouws (30), in die plaaslike landdroshof op aanklagte van onder meer moord op Botha verskyn.
Sy word dus nie meer as ’n minderjarige aangekla nie en haar naam mag bekend gemaak word.

Dr. Roelof Botha se lyk is op 1 Junie gevind. Foto: Argief
Eric Ntabazalila, woordvoerder van die direkteur van openbare vervolging (DOV) het gesê die saak is tot 4 November uitgestel.
Die saak sloer al geruime tyd omdat Abels, Gouws en Goeieman aansoek om borgtog wil doen.
Omdat Goeieman tot Dinsdag ’n minderjarige was, het die polisie gesukkel om ’n alternatiewe woonadres vir haar – waar sy sou kon bly indien borgtog aan haar toegestaan word – te bevestig.
Die hof het twee weke gelede besluit om die saak tot Goeieman se verjaardag op 28 Oktober uit te stel omdat sy dan self kan besluit waar sy sou bly indien haar aansoek suksesvol is. Sy moet nou ’n adres verskaf wat die polisie met haar volgende verskyning aan die hof moet bevestig.