Moord en seksuele aanranding is twee van die kontakmisdade wat binne ’n tydperk van drie maande in die Oos-Kaap toegeneem het.
Dit blyk uit die jongste provinsiale misdaadstatistieke vir die derde kwartaal van die huidige boekjaar, wat Vrydag amptelik deur die polisie in die provinsie uitgereik is.
Die statistieke is vir Oktober tot Desember verlede jaar.
Moord het met 0,5% toegeneem.
Die polisiekantore in die provinsie waar die hoogste stygings in moordsake aangemeld is, is Bethelsdorp, Lusikisiki, KwaZakhele, Cofimvaba, Dutywa, Cala en Willowvale.
Die algemeenste wapens wat in die moorde gebruik is, is messe (399), vuurwapens (306) en ander skerp voorwerpe (137).
Die drie polisiekantore waar die meeste moorde met vuurwapens aangemeld is, is Bethelsdorp, Mthatha en KwaZakhele.
Die meeste moorde is bendeverwant (42), gevolg deur verkragting (39) en rusies en misverstande (30).
Van die vermoordes was 81% volwasse mans, gevolg 13,4% volwasse vroue.
Daar was vier meer plaasmoorde in die provinsie in vergelyking met die vorige kwartaal. In die vorige kwartaal was daar geen.
Daar was 18 aanvalle op plase en kleinhoewes; agt meer as in die vorige kwartaal.
Al die ander misdade in die kontakmisdaad-kategorie, soos seksuele oortredings, poging tot moord, aanranding en aanranding met die doel om ernstig te beseer en roof, en roof met verswarende omstandighede het afgeneem.
Die grootste afname was roof met verswarende omstandighede, wat ’n daling van 13,3% getoon het.
Die totale aantal kontakmisdade was 18 808 gevalle teenoor die vorige 19 675 gevalle.
Wat seksuele misdrywe betref, het seksuele aanranding met 16,2% gestyg en verkragtings het met 2,7% afgeneem.
Transitorooftogte en die kaping van vragmotors toon ’n toename van onderskeidelik 14,3% en 22,9%.
Twee polisiebeamptes het in die laaste drie maande hul lewens verloor. Hulle was nie aan diens toe hulle gesterf het nie.