Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Moorde in Reitz: Te min polisielede, sê DA

’n Nypende tekort aan polisielede in Reitz in die Vrystaat kan ’n groot rede wees vir waarom ernstige misdaad, soos die jongste vlaag moorde in die gebied, toeneem.

Die organogram van die Reitz-polisiekantoor maak voorsiening vir 72 personeellede, terwyl daar net 59 is.

So sê dr. Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, in ’n mediaverklaring.

Dr. Roy Jankielsohn Foto: Netwerk24

Hy het saam met ’n span raadslede, Paulus Mkhwanazi en Thinus Blignaut, albei van Nketoana (Reitz), en Jafta Mokoena, Lucas Xaba, en Eric Motloung, almal van Dihlabeng (Bethlehem), ’n oorsigbesoek aan Reitz gebring nadat die gemeenskap daar geruk is deur verskeie moorde op geliefde inwoners die laaste tyd.

Brig. Sam Makhele, provinsiale polisiewoordvoerder, sê hy wil nie bykomende kommentaar oor die aangeleentheid lewer nie. “Daar kan volstaan word met die kommentaar van Bethlehem se afdelingskommissaris, maj.genl. Jan Tsotetsi, wat Reitz reeds ná die moorde besoek het.”

“Die polisie het ook reeds op 23 Julie ’n vergadering met die gemeenskap van Reitz gehou. Die veiligheid van die inwoners van Reitz bly ons prioriteit,” het Tsotetsi gesê.

Hy het gesê die polisie in Reitz is ernstig daaroor om die gemeenskap te dien en hy wil hê dat Reitz dieselfde polisiëring as Bethlehem moet hê en daarom gaan ondersoek gedoen word om te kyk hoe dit vermag kan word.

Jankielsohn sê egter met die oorsigbesoek van die DA het dit aan die lig gekom dat daar net vyf polisielede per skof aan diens is en in sommige gevalle kan een van hulle met verlof wees.

Hy sê die span het inligting van die plaaslike raadslede ontvang wat hulle weer van die gemeenskap, die waarnemende bevelvoerder van die Reitz-polisiekantoor en van verteenwoordigers van plaasveiligheidsorganisasies ontvang het.

“Vrywilligers is gebruik om die personeeltekorte in die polisiekantoor mee aan te vul, maar die polisie is ingelig dat dit nie meer toelaatbaar is nie. Die gevolg is dat die werklading ondraaglik is. Die vrywilligers is werklose mense van die gemeenskap, van wie sommige gegradueerdes is.”

Vrywilligers is gebruik om die personeeltekorte in die polisiekantoor mee aan te vul, maar die polisie is ingelig dat dit nie meer toelaatbaar is nie.

Ander bevindings wat gemaak is:

* Die finansiële beampte van die polisie is met verlof, met die gevolg dat die finansiële afdeling gesluit is. Dit bemoeilik die uitreiking van permitte.

* Albei die personeelbeamptes van die personeelkantoor en die beamptes van die afdeling vir voorkeuraankope is ook met verlof.

* In die verlede was daar tien speurders, maar nou is daar net ses. Elke speurder het gemiddeld 100 dossiere op ’n keer wat hy moet hanteer.

* Tavernes skep ook groot probleme omdat dronkenskap en misdaad hiermee gepaardgaan, veral aanranding en verkragtings.

* Die gemeenskap van Petsana verjaag die polisie wanneer dié probeer om met hulle oor kwessies te praat, terwyl die gemeenskapspolisiëringsforum ook nie doeltreffend is nie.

* Verkragting het ernstige afmetings aangeneem terwyl talle voorvalle nie aangemeld word nie. Onlangse bewusmakingsveldtogte deur die polisie het daartoe gelei dat sommige gevalle van verkragting van vroue en kinders wel aangemeld is.

* Onwettige immigrante in die gebied is ook die oorsaak van toenemende misdaad.

* Senior personeel van die polisiekantore moet te veel vergaderings bywoon wat hul tyd, asook hulpbronne soos voertuie, in beslag neem.

Jankielsohn sê ’n verteenwoordiger van die landbougemeenskap het die volgende inligting verskaf:

* Misdaadtonele by plaasaanvalle en ernstige oortredings soos moord, raak gekontamineer omdat die polisie dit nie afsper nie.

* Die voertuie wat die polisie vir landelike gebiede gebruik, is nie geskik vir dié gebiede nie, terwyl die polisie in viertrekvoertuie in die dorp gesien word.

* Die veediefstaleenheid in Fouriesburg het ook nie genoeg personeellede nie en kan nie vinnig op klagtes reageer nie.

Jankielsohn sê volgens raadslede onderhandel die polisie en die oortreders dikwels met mekaar om te voorkom dat dossiere aangelê word.

Raadslede sê ook dat die gemeenskap van Reitz en Petsana in vrees lewe en dat dit hul vryheid van beweging aan bande lê.

Boere betaal private sekuriteitsbeamptes om die werk van die polisie te doen, wat hulle tussen R700 en R2 000 per maand kos.

Jankielsohn sê die DA se verslag gaan nou aan Sam Mashinini, Vrystaatse LUR vir polisie, paaie en vervoer, oorhandig word, asook aan Zakhele Mbhele en Dianne Kohler-Barnard, albei DA-LP’s, en ook aan lede van die portefeuljekomitee oor polisie in die parlement.

Meer oor:  Da  |  Roy Jankielsohn  |  Reitz  |  Polisielede  |  Moorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.