Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Moordenaar(s) wat veearts doodskiet, steeds soek

Die polisie in Gauteng is steeds op soek na die moordenaar(s) van die 43-jarige veearts van Krugersdorp aan die Wes-Rand.

Dr. Corli van der Walt, wat Saterdag vermoor is. Foto: Facebook

Dr. Corli van der Walt is Saterdagoggend dood in haar motor gevind op die hoek van Bellrylaan en Nordenstraat in die spoggerige woonbuurt Rangeview. Sy was op pad werk toe, na die Bromhof-dierekliniek in Randburg, toe sy in haar motor geskiet is.

Kapt. Mavela Masondo, provinsiale polisiewoordvoerder, sê ’n verbyganger het Saterdag omstreeks 08:00 op Van der Walt se lyk in die motor afgekom.

“Die persoon het toe die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in kennis gestel. Die GPF het die polisie gekontak,” sê hy.

Masondo sê Van der Walt is met verskeie skietwonde in haar bolyf gevind.

“Die motief vir die moord is steeds onduidelik en ’n klag van moord word ondersoek,” sê hy. Dit is ook onduidelik of iets by Van der Walt geroof is gedurende die voorval.

Die Bromhof-dierekliniek het hulde gebring aan Van der Walt. “Dit is met ’n seer hart dat ons ons kliënte moet meedeel dat ons geliefde veearts en vriendin, dr. Corli van der Walt, gister in tragiese omstandighede dood is. Sy is op pad werk toe in Krugersdorp doodgeskiet.

“Corli was vir vier jaar deel van die span en was ’n groot bate. Sy gaan beslis gemis word,” lui ’n inskrywing op die Bromhof-dierekliniek se Facebook-blad.

Volgens Van der Walt se profiel op die kliniek se webblad het sy twee dogters gehad. Sy was ook baie lief daarvoor om met eksotiese diere te werk.

Dr. Corli van der Walt het daarvan gehou om met eksotiese diere te werk. Foto: Facebook

Intussen is talle huldeblyke op sosiale media geplaas.

Jenna-lee van Zijl skryf op Facebook Van der Walt was ’n wonderlike mens om mee te gesels. “Sy het altyd geluister en omgegee. Ek was mal oor die manier waarop sy kon praat en hoe sy na jou gekyk het as sy met jou praat. My innige simpatie aan haar gesin,” skryf sy.

Kerry du Preez skryf dat die nuus as ’n groot skok gekom het. “Sy het ons altyd gehelp met ons katte. Sy het die een gehelp met sy diabetes en sy het ons bygestaan toe ons wyfiekat laas jaar dood is. Sy gaan beslis gemis word. Sy was ’n wonderlike en spesiale mens.”

Trevana Moodley skryf op Facebook dat Van der Walt altyd haar pasiënte sag en met respek behandel het. “Dr. Corli het altyd ons haas sag behandel. Sy was hoogs intelligent. Haar dood is ’n groot verlies en ons sal haar ewig dankbaar wees,” skryf sy.

Geliefdes en kollegas na aan Van der Walt wou nie Maandag kommentaar lewer nie.

Meer oor:  Randburg  |  Veearts  |  Doodgeskiet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.