Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Moordhoofstad’ kry nuwe polisiekantoor

’n Nuwe polisiekantoor in Nyanga, Kaapstad, moet help om die polisie se werkslas in die “moordhoofstad” van die land te verlig.

Bheki Cele, minister van polisie, Dinsdag by die opening van die Samora Machel-polisiekantoor in Nyanga, Kaapstad. Foto: Adrian de Kock

Bheki Cele, minister van polisie, het Dinsdag by die opening van die polisiekantoor in Samora Machel gesê die polisie kan egter nie alleen misdaad bekamp nie en gemeenskapslede moet die misdadigers in hul midde uitwys.

“Misdadigers kom nie van die reën af nie, maar uit julle eie huise uit. Julle ken die misdadigers, bring hulle hiernatoe.”

Cele is die middag deur singende en dansende lede van die polisie en gemeenskap in die saal van die Sophumelela Secondary School, tussen Nyanga en Philippi, begroet.

Hy het ’n beroep op inwoners gedoen om enige misdaad onmiddellik aan te meld.

“As jy vir jou seun R16 gee om na die dorp te gaan en hy kom by die huis met ’n motor moet jy dit aanmeld. Daar is geen BMW’s wat vir R16 verkoop word nie.”

Cele het daarop gewys dat Nyanga al die afgelope vyf jaar die “moordhoofstad” van Suid-Afrika is, met die meeste moordklagte wat aangemeld is.

Hy het egter gesê dat hy nie die verwagting wil skep dat die nuwe polisiekantoor dié probleem sal oplos nie, omdat die toestande waarin mense bly ook tot misdaad bydra.

101 polisielede is by die Samora Machel-kantoor ontplooi en ’n bykomende 15 lede sal vandeesmaand ontvang word.

Lt.kol. Elliot Lingani, bevelvoerder van die Samora Machel-polisiekantoor, sny Dinsdag ’n lint met die opening van dié polisiekantoor in Nyanga, Kaapstad. Agter hom staan Bheki Cele, minister van polisie, en langs hulle staan genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris. Foto: Adrian de Kock

Dié polisielede val almal onder die Nyanga-polisiekluster.

Verder is daar 24 voertuie vir die polisiekantoor en gaan nog 30 mettertyd bygevoeg word.

Cele het aan polisielede gesê dié voertuie is nie daar om hul “familielede rond te ry of winkel toe te gaan nie”.

Gemeenskapslede is aangemoedig om ander dienste en geriewe met dieselfde geesdrif op te eis as wat die geval met die polisiekantoor was.

“Mense gaan nie veilig wees as daar nie huise of straatligte of behoorlike sanitasie is nie, waar hulle in die aand moet toustaan vir ’n buitetoilet.”

Senior polisielede salueer Dinsdag terwyl vlae voor die Samora Machel-polisiekantoor in Nyanga, Kaapstad, gehys word. Langs hulle staan lede van die stigting Gift of the Givers in groen hemde. Foto: Adrian de Kock

Volgens Cele moet slagoffers van verkragting en gesinsgeweld, veral vroue en kinders, ook beter deur polisielede hanteer word.

“Geen aanmerkings van die polisie – of dit nou ’n man of ’n vrou is – oor kwessies soos wat hulle aangetrek het, sal geduld word nie. Julle is nie hier as modekenners nie.”

Genl. Khehla Sitole (links), nasionale polisiekommissaris, en Bheki Cele, minister van polisie, onthul Dinsdagmiddag die gedenkplaat van die polisiekantoor in Samora Machel in Nyanga, Kaapstad, wat geopen is. Foto: Adrian de Kock

Genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, sê daar word hard gewerk om die agterstand met die bou van polisiekantore landwyd in te haal en dit was ook die geval met dié kantoor.

Lt.genl. Khombinkosi Jula, provinsiale polisiekommissaris, het gesê die werklas van die Nyanga-polisiekantoor het te veel geword en die nuwe kantoor sal help om dit te verlig.

Volgens Martin Makhazi, voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum in Nyanga, was dit nie ’n maklike pad om tot by die opening van die kantoor te kom nie en het gemeenskapslede geveg daarvoor.

Hy het die Wes-Kaapse departement van gesondheid bedank dat die grond vir die polisiekantoor beskikbaar gestel is en sê daar sal volgende op ’n kantoor vir Brown’s Farm, Philippi, gefokus word.

Alan Winde, LUR vir gemeenskapsveiligheid, het in ’n verklaring gesê die opening van die nuwe polisiekantoor is ’n “oorwinning vir die gemeenskap, die provinsiale regering en alle inwoners van die Wes-Kaap”.

Hy het benadruk dat 1 273 mense in die afgelope vyf jaar in Nyanga doodgemaak is, met 308 moorde wat in die boekjaar 2017-’18 aangemeld is.

Volgens Winde is daar ’n “historiese onderbemanning” van die polisie in die gebied, met ’n verhouding van een polisielid vir elke 628 inwoners.

Gift of the Givers het die oggend ook kos en vyf rolstoele in Philippi uitgedeel aan die families van 96 polisielede wat dood is terwyl hulle aan diens was.

Meer oor:  Bheki Cele  |  Nyanga  |  Kaapstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.