Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Moordsyfer: ‘Geweld teen boere aangehits’

Ekstremistiese politieke groeperings wat deur opportunistiese uitsprake ’n klimaat van onverdraagsaamheid teenoor boere skep, is waarskynlik een van die redes hoekom daar soveel moorde op plase en hoewes in Noordwes is.

Boere word as ’n groep geteiken deur (onder meer) die EFF en Black First Land First. Hulle word gestigmatiseer en geëtiketteer.

Dit is die reaksie van Boeta du Toit, uitvoerende hoofbestuurder van Agri Noordwes, oor die jongste misdaadstatistieke wat wys in die afgelope boekjaar is die tweede meeste moorde (9) op plase en hoewes in Noordwes gepleeg. Die meeste (11) was in Gauteng, volgens die polisie se misdaadstatistieke vir die 2017-’18-boekjaar wat Dinsdag bekend gemaak is.

Du Toit sê dit “is nie toevallig” dat plaasaanvalle en -moorde in Noordwes in 2017 toegeneem het nadat groepe soos die EFF en selfs Supra Mahumapelo, voormalige premier, “rassistiese uitsprake gemaak het in reaksie op sekere gebeure” nie.

Dit sluit die dood van Matlhomola Mosweu (16) in Coligny in. Die staat beweer hy is van ’n bewegende bakkie afgegooi. Philip Schutte en Pieter Doorewaard, die twee plaaswerkers wat hom vervoer het, ontken dit. Hulle sê hy het afgespring terwyl hulle hom polisiekantoor toe geneem het nadat hy sonneblomme gesteel het. Die twee mans se moordverhoor is tans in die hooggeregshof in Mmabatho aan die gang.

Du Toit sê die gewelddadige onrus in April verlede jaar in die Lichtenburg- en Coligny-omgewing, waar ook populistiese uitsprake gemaak is, het moontlik verder bygedra tot die atmosfeer van onverdraagsaamheid teenoor boere en die regverdiging van aanvalle teen hulle.

“Boere word as ’n groep geteiken deur (onder meer) die EFF en Black First Land First. Hulle word gestigmatiseer en geëtiketteer. Geweld teen hulle word aangehits deur die (valse) persepsie te skep dat hul grond en eiendom maar gesteel kan word. Dit beïnvloed die voorkoms en wreedheid van plaasaanvalle.”

Du Toit skryf die toename van 8% die afgelope boekjaar in veediefstal in Noordwes toe aan die verskuiwing van misdadige bedrywighede van een gebied na ’n ander.

Sodra die polisie en gemeenskappe suksesvolle bekampingstrategieë in een gebied vestig, verskuif die misdaad na ’n ander gebied.

“Ons sien nou ook weer dat wanneer hierdie misdrywe in ander provinsies afneem, verskuif dit na aangrensende provinsies. Dis die duidelikste in bokdiefstal, wat baie laag was en toe met 1 259% in Noordwes gestyg het nadat dit in die Vrystaat, Gauteng en die Noord-Kaap afgeneem het.

“Sodra die polisie en gemeenskappe suksesvolle bekampingstrategieë in een gebied vestig, verskuif die misdaad na ’n ander gebied.”

Taung in die Vryburg-distrik, Mogwase naby Sun City en Ventersdorp is almal onder die 30 plekke in die land waar veediefstal die meeste voorkom. Du Toit dink Ventersdorp is gewild onder veediewe omdat dit naby Gauteng is waar hulle die gesteelde vee kan verkoop.

“Ons sien ook ’n konstante sikliese afwisseling in die voorkoms van veediefstal. Sedert omstreeks 1996 neem dit ses tot sewe jaar lank toe, dan neem dit weer af vir sowat vyf jaar en dan begin die siklus weer van voor af met ’n toename vir die volgende sowat sewe jaar.”

Du Toit sê egter slegs navorsing sal met 100%-sekerheid kan bewys wat werklik agter die gereelde voorkoms van plaasaanvalle en veediefstalle in Noordwes sit.

“Ons kan maar net (ingelig) bespiegel. Die voorkoms van veediefstal word egter beslis ook deur vleispryse beïnvloed, want hoe beter die pryse, hoe meer lonend is dit vir die diewe om te steel.”

Grafika24

Meer oor:  Boeta Du Toit  |  Noordwes  |  Plaasaanvalle  |  Boere  |  Misdaadstatistieke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.