Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Moskee:‘Valke het g’n kennis’
Die dolk wat in die aanval gebruik is.

As vermoedens waar is dat die aanvallers wat Donderdag ’n man keelaf gesny het by ’n Durbanse moskee buitelanders is, moet die Verulam-gemeenskap begin aanvaar die kans dat die skuldiges gevang gaan word, is naby aan nul.

Die Valke, wat die Imam Hussain-moskee as ’n gewone misdaadtoneel hanteer, sal die potensiële rol van internasionale sektariese spanning in die Moslemgemeenskap miskyk, en die Staatsveiligheidsagentskap (SVA), wat hul vinger op die pols van terreurselle behoort te hê, stel die laaste jare net in een ding belang: die partypolitiek.

Dr. Nel Marais, voorheen verbonde aan die destydse Nasionale Intelligensiediens se buitelandse geheime diens, het aan Rapport gesê die SVA se kennis van buitelandse terreurnetwerke wat in Suid-Afrika werk, is uiters swak. Marais self vermoed op grond van beskikbare inligting dat buitelanders betrokke was, en dit is ook waaroor die gemeenskap van Verulam praat.

Die moordwapen – ’n bebloede dolk – is byvoorbeeld op die toneel gelos met vingerafdrukke en al, iets wat waarskynlik nie sou gebeur het as hul vingerafdrukke op die plaaslike polisiedatabasis gevind sou kon word nie.

“Hierdie drie aanvallers het ’n fyn plan gehad om vinnig en heeltemal te verdwyn. Dit kan beteken hulle voer verdere planne van nóg aanvalle in die mou,” sê Marais.

Paramedici behandel een van die slagoffers van Donderdag se aanval op ’n moskee in Verulam, Durban kort ná die aanval.Foto: SA Polisiediens

Drie aanvallers het Donderdagmiddag ’n geestelike leier by die moskee, Ali Nchiyane, en die opsigter, Muhammad Ali, aangeval en die moskee se biblioteek aan die brand gesteek. ’n Buurman, Abbas Essop, het hul gille gehoor en gaan help. Essop se keel is afgesny en hy is later dood.

Nchiyane, wat ook in die nek gesteek is, het by die tweede verdieping se venster uitgespring en só van sy aanvallers weggekom.

Prem Balram van Reaction Unit South Africa, ’n veiligheidsmaatskappy in Durban, was een van die eerstes op die toneel. Volgens Balram was Essop se slagaar afgesny en Ali is in die maag en lyf gesteek.

“Ons het ’n netwerk geaktiveer om die aanvallers, wat in ’n ongemerkte voertuig ontsnap het, te probeer keer. Daar is egter in Phoenix en die gebied om die moskee baie wegkruipplek. Ons kon niks kry nie.”

Terwyl Nchiyane en ander geestelikes Vrydag die voorval as ’n terreuraanval bestempel het, is dadelik oor die nasionaliteit van die aanvallers gegis. Volgens Balram het omstanders gesê hulle is Egiptenare.

Ingeligtes na aan dié Sjiïtiese moskee wat aangeval is, sê daar is lankal vrese dat spanning oplaai tussen sekere Sjiïtiese en Soennitiese Moslems – die twee hoofgroeperinge in Islam – in die omgewing.

Die afbrand van die biblioteek kan daarop dui dat die aanvallers ’n probleem met die leerstellings en geskrifte van die moskee het.

’n Man word by Vrydag se biduur vertroos. Foto: Khaya Ngwenya, AP

Volgens Rapport se bron het die oorlog in Sirië gemoedere onder enkelinge in die plaaslike Moslem-gemeenskap opgejaag. Iran en die militante groep Hisbolla is Sji­ities, terwyl pres. Basjar al-Assad van Sirië ’n vertakking van Sjiïete verteenwoordig en tans in ’n burgeroorlog teen Soennietiese rebelle verkeer.

“Iran finansier reeds geruime tyd die vestiging van Sjiïtiese sentrums in Suid-Afrika. Daar is 35 van dié sentrums in die land, die Verulam-moskee is een daarvan.”

Die aanval kan selfs ’n poging deur ’n buitelandse intelligensiediens wees om onmin in Suid-Afrika se vreedsame Moslem-bevolking te saai.

Marais het nie veel vertroue in die ondersoek nie. “Ek twyfel of die Valke, misdaadintelligensie of Staatsveiligheid oor enige vaardighede of netwerke beskik om die ideologiese motief te bepaal.”

Kapt. Simphiwe Mhlongo, Valke-woordvoerder in KZN, sê die Valke het juis die ondersoek oorgeneem omdat dit ’n ekstremistiese aanval blyk te wees. “Ons volg met al ons en ander departemente se kundigheid alle moontlikhede op. Niemand is in hegtenis geneem nie.”

Paramedici behandel een van die slagoffers van Donderdag se aanval op ’n moskee in Verulam, Durban. Foto: SAPd
Meer oor:  Verulam  |  Valke  |  Ondersoek  |  Moskee-Aanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.