Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Moslems geskok oor aanval

Die Moslem Juridiese Raad (MJC) het hom skerp uitgespreek teen die geweld op plekke van aanbidding nadat twee inwoners van Malmesbury in die vroeë oggendure in ’n moskee op die dorp doodgesteek en verskeie ander beseer is.

Die polisie het die aanvaller doodgeskiet toe hy met ’n mes op hulle afgestorm het.

Die aanvaller se lyk waar hy doodgeskiet is toe hy op die polisie afgestorm het. Foto: Jaco Marais

Inwoners sê ’n onbekende buitelander, vermoedelik van Somalië, het die moskee binnegegaan en gevra of hy vir die oggendgebede mag bly.

“Die aanvaller het daarna een van die bejaardes se keel afgesny, hom twee keer in die bors gesteek en ’n tweede persoon in die rug gesteek,” het ’n inwoner gesê.

Sjeik Irfaan Abrahams, president van die MJC, het gesê die aanval het gebeur terwyl Moslems gereed maak om Eid te vier.

“Om so ’n tragedie aan die einde van Ramadan te ervaar is baie hartseer vir ons almal. Wie ook al dit gedoen het, het geen respek vir die heiligdom van die moskee nie,” het Abrahams gesê.

Die moskee in Malmesbury waar die aanval Donderdag plaasgevind het. Foto: Jaco Marais
Die ingang na die moskee waar twee mense dood en verskeie ander beseer is. Foto: Jaco Marais

Die Kaapstadse Islamitiese Opvoedkundige Sentrum (CTIEC) het ook sy skok uitgespreek oor die aanval. Moefti Sayed Haroon Al Azhari, hoof van die Kaapse oelama-raad (vergadering van geestelike leiers), het die voorval as skokkend en ontstellend beskryf. “Dit is onaanvaarbaar dat mense se lewens in ’n plek van aanbidding geneem is.”

Moelana Sayed Imraan Ziyaee, hoof van die CTIEC, het ook die aanval veroordeel en gesê “plekke van aanbidding moet plekke van veiligheid en kalmte wees, nie van gruwel en geweld nie”.

Lt.kol. André Traut, woordvoerder van die polisie, sê speurders fynkam die misdaadtoneel vir leidrade. Volgens hom het die aanvaller die polisie se bevel om hom oor te gee geïgnoreer en met ’n mes op hulle afgestorm, waarna hy doodgeskiet is.

Traut sê die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) sal die aanvaller se dood ondersoek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.