Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Motief vir ma en dogter se moord nog ’n raaisel

Terwyl familie en vriende van twee vermoorde vroue van Polokwane Dinsdag op die kerkbanke sit vir ’n gedenkdiens, sal die vroue se vermeende moordenaars in die beskuldigdebank van die landdroshof staan.

Twee mans wat glo betrokke was by Lizette Deacon (55) en haar ma, Hettie (79), se ontvoering en moord is Saterdagoggend enkele ure uit mekaar in hegtenis geneem.

Oudkol. Gawie Louwrens van Bosveld Misdaad Ondersoeke het Saterdagoggend omstreeks 03:00, in samewerking met die polisie, toegeslaan op ’n huis in Mookgophong en ’n 35-jarige Zimbabwiese man in hegtenis geneem.

Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder in Limpopo, sê die polisie het omstreeks 08:00 ook ’n 30-jarige man in hegtenis geneem.

Hettie Deacon (79) en haar dogter, Lizette (55), van Polokwane is Donderdag vermoor.

Hulle soek na nog moontlike verdagtes, maar die motief vir die moorde bly ’n raaisel.

Die vroue is Donderdagaand vroeg in hul meenthuis in Polo­kwane oorval en in Lizette se wit Honda-luikrugvoertuig ontvoer. Hul vasgebinde lyke is ure later sowat 25 km buite Polokwane in die voertuig se bagasiebak gekry.

Mojapelo sê hulle is etlike kere in die meenthuis met messe gesteek.

“’n Mens moenie eers dink aan wat hulle moes verduur in hul laaste ure nie,” het Christo van der Merwe, ’n goeie vriend van die vroue, gister gesê.

Van der Merwe, wat jare lank saam met Lizette en Hettie rolbal gespeel het, het Donderdag die bebloede huis ontdek toe hy na die vroue gaan soek het. Hy was bekommerd omdat hulle nie sy oproepe of WhatsApp-boodskappe beantwoord het nie.

“Ek was in Lizette se kamer in. Daar was laaie oopgetrek en daar was baie bloed op die mat en teen die bed. Alles was deurmekaar, toe weet ek hier is groot fout,” het hy vertel.

In die meenthuis het ’n R5-muntstuk en sente op bloedmerke op die mat in Lizette se kamer gelê. Strooikussings is van die bed gegooi en het op die vloer tussen bloedkolle gelê. Onder aan die bed was daar ook ’n bloedkol.

’n TV-stel is op die mat in Lizette en Hettie Deacon se meenthuis gekry. Foto: Marietie Louw-Carstens
Bloed op die mat en teen die bed in Lizette Deacon se slaapkamer. Foto: Marietie Louw-Carstens
Bloedkolle en muntstukke op die mat in Lizette Deacon se slaapkamer. Foto: Marietie Louw-Carstens

Theo van der Wath, wat langs die Deacons bly, sê hy het Donderdag gehoor “iemand jaag in ’n lae rat (soos eerste rat) met Lizette se kar uit die kompleks”.

“Ek het gedink ek wil vir haar sê sy kan nie so vinnig ry met kinders wat tussen die huise speel nie,” sê hy.

Die vroue is vermoedelik toe reeds in hul huis oorval.

“Niemand verdien wat met hulle gebeur het nie,” sê Dia van Staden, Lizette se jare lange vriendin sedert hul jare as onderwysstudente.

“Sy het daarin geglo om mense altyd ’n derde en vierde kans ook te gee.”

Rita Erasmus, nog ’n boesemvriendin van Lizette, onthou haar as “’n vrolike mens, almal het van haar gehou en sy was avontuurlustig . . . sy het alles uit die lewe gehaal”.

Die vroue was albei sportmal en “het enige geleentheid aangegryp om ’n kaartspeelaand te reël”, sê die Deacon-familie.

Lizette het uitgeblink in tennis en was vanjaar die tweede beste vroue-rolbalspeler in Limpopo.

Dia van Staden en Lizette Deacon. Van Staden is ’n goeie vriendin van die vermoorde Deacon. Foto: FACEBOOK
Lizette Deacon (55) en Christo van der Merwe, ’n vriend van haar, het saam rolbal gespeel in Polokwane.

Quinton Deacon, Hettie se seun en Lizette se broer, woon saam met sy vrou in Melkbosstrand en hulle het Vrydag inderhaas na Polokwane gevlieg.

Die Deacon-familie het bevestig ’n gedenkdiens word Dinsdag om 11:00 in die NG kerk Pietersburg-Noord gehou.

Die twee vermeende moordenaars sal ook Dinsdag in die Polo­kwane-landdroshof verskyn.

’n Blommesee by die Ocean Basket-restaurant in die Mall of the North ter herinnering aan die vermoorde Lizette Deacon en haar ma, Hettie, van Polokwane. Foto: Deaan Vivier
Rita Erasmus huil Vrydag bitterlik ná die moord op haar goeie vriendinne, Lizette Deacon en haar ma, Hettie. Foto: Deaan Vivier
Blomme en kerse is by ‘n foto van die vermoorde Lizette en Hettie Deacon in die Ocean Basket-restaurant in die Mall of the North in Polokwane neergesit. Foto: Marietie Louw-Carstens

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.