Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Motor-swendelaar’ vasgetrek nadat hy gereg ontduik
André Grobler (54) staan tereg op minstens 30 aanklagte van onder meer bedrog en diefstal. Foto: TTR24

’n “Motorverkoopsman” wat teregstaan op minstens 30 aanklagte van onder meer bedrog en diefstal, is Dinsdag in Krugersdorp in hegtenis geneem.

’n Lasbrief vir André Grobler (54) se inhegtenisneming is reeds in Julie uitgereik nadat hy versuim het om in die hof te verskyn.

’n Bron na aan die ondersoek sê die aantal aanklagte teen hom kan nog nie bevestig word nie “omdat Grobler glo mense landwyd ingeloop het en die sake gekonsolideer gaan word”.

Grobler het hom glo as ’n weldoener voorgedoen en veral jag gemaak op organisasies sonder winsbejag.

“Hy sou mense van liefdadigheidsorganisasies uitvat vir ete en aanbied om motors vir die organisasie te skenk. Daarna sou hy hulle kontak en vra hulle moet geld oorplaas sodat hy die motors kan diens. Omdat hulle opgewonde was oor die motors, het hulle hom betaal,” sê die bron.

“Almal het vir sy praatjies geval weens sy sjarmante geaardheid en sy gladde bek.”

Volgens die bron het Grobler ook konstruksie- en mynmaatskappye in sy visier gehad.

André Grobler (54) het glo veral organisasies sonder winsbejag in sy visier gehad en meer onlangs was konstruksie- en mynmaatskappye glo sy prooi. Foto: TTR24

Op Facebook het Ronel Koen en Teddy Hammond gekla dat hy hulle ingeloop het en ander mense gewaarsku teen dié motor-slenter.

Volgens William Nel, eienaar van TTR24 (Track, Trace & Recover) wat die polisie bygestaan het in die ondersoek, was Grobler en sy vrou moontlik betrokke by nóg swendelarye. Hulle is na bewering duisende rande deur die eggenote van die sogenaamde doodskis-twee betaal met beloftes dat hulle borgtog vir Willem Oosthuizen en Theo Jackson kon bewerkstellig. Dit het egter nooit gebeur nie. Die Middelburg-Observerhet berig dat hulle na bewering R24 000 van die vroue ontvang het.

Die twee se paadjies het na bewering geskei toe Grobler van die gereg probeer vlug het.

Volgens Westley Ebersohn, ook van TTR24, het hy Grobler Dinsdagoggend in Krugersdorp-Wes gaan soek en daar in hegtenis geneem. Hy sal na verwagting Woensdag in die handelshof in Pretoria verskyn.

Die polisie het gevra dat nóg mense wat die polisie kan bystaan met inligting hulle kontak by 083 843 5494.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.