Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
KYK: Motorfietsryer vra ondersoek ná ‘polisie’ wapen op hom rig

’n Man van Pretoria is briesend nadat hy sonder rede deur mans in klere soortgelyk aan dié van die Suid-Afrikaanse Polisiediens met ’n aanvalsgeweer op die snelweg gedreig is.

Steven van Jaarsveld (44) was verlede Woensdag op sy motorfiets op pad van Pretoria na sy werk in Bryanston, Johannesburg.

Naby die William Nicol-afrit het hy ongemerkte voertuie verbygesteek.

’n Skermgreep uit ’n video van Steven van Jaarsveld, wat met die GoPro-kamera op sy motorfietsvalhelm geneem is, waar die passasier iets vir hom beduie. Foto: Verskaf
’n Skermgreep uit die video van Steven van Jaarsveld. Hier kan die polisiedrag uitgeken word.Foto: Verskaf
’n Skermgreep uit die video van Steven van Jaarsveld. Uit die venster kan die punt van ’n vuurwapen gesien word. Foto: Verskaf

Die hele voorval is op die GoPro-kamera op sy valhelm vasgelê.

In dié video kan gesien word hoe ’n man in polisiedrag eers vir Van Jaarsveld beduie om oor te skuif na die volgende baan. Later steek dieselfde man ’n aanvalsgeweer by die venster uit.

Die voertuie – ’n Ford, ’n Nissan-dubbelkajuitbakkie en ’n Kia – het almal in die regterkantse baan gery.

“Ek het eers later besef – toe ek na die video kyk – dat die Ford flikkerende ligte gehad het.”

Die verkeer op die snelweg was druk en Van Jaarsveld het soos gewoonlik tussen die motors deurgevleg.

Hy was reeds verby die eerste voertuig, die Ford, en net verby die Nissan-bakkie toe die Kia voor hom inswaai.

In die video kan gesien word hoe die bakkie agter Van Jaarsveld versnel en toe gevaarlik naby hom ry.

’n Man in die voorste sitplek aan die passasierskant van die bakkie, met swart handskoene aan en klere soos dié van ’n polisieman, beduie iets vir Van Jaarsveld.

Die bakkie gaan verby en dan kan daar gesien word hoe die punt van ’n vuurwapen by die venster uitgesteek word.

Van Jaarsveld verminder amper dadelik spoed en die Ford kom van agter met nog ’n persoon wat by ’n oop venster vir hom iets beduie en skreeu. Dié persoon is ook in kleredrag wat lyk soos dié van ’n polisieman.

“Ek was in daardie stadium meer kwaad as bang. Ek het niks verkeerd gedoen nie,” sê Van Jaarsveld.

Hy het wel besluit om eerder by die volgende afrit af te draai voordat die mense dalk besluit om op hom te skiet.

Hy het wel besluit om eerder by die volgende afrit af te draai voordat die mense dalk besluit om op hom te skiet.

Dit is in dié stadium onduidelik of die mense wat Van Jaarsveld gedreig het wel polisiemanne is.

’n Kopie van Van Jaarsveld se video, asook die registrasienommers van die betrokke voertuie, is Sondag aan die polisie oorhandig vir kommentaar.

Kapt. Mpho Tshetlhane, polisiewoordvoerder, het Maandag die saak verwys na kol. Lungelo Dlamini, ’n provinsiale polisiewoordvoerder.

Dlamini is met verlof en die saak is Maandag verwys na kapt. Mavela Masondo, ook ’n provinsiale polisiewoordvoerder.

Die saak is ook onder die aandag gebring van brig. Mathapelo Peters, Gautengse hoofpolisiewoordvoerder.

Netwerk24 het teen druktyd nog geen kommentaar van die polisie gekry nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.