Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Motoriste met klippe bestook in Kaapse verkeerschaos

Motoriste is Vrydag in spitsverkeer met klippe bestook terwyl hulle inderhaas probeer het om uit die middestad van Kaapstad te kom.

Woedende taxibestuurders het verkeerschaos in die stad veroorsaak toe hulle paaie versper, motorbande gebrand en motoriste met klippe bestook het.

Verkeersbeamptes lê beslag op taxi’s in die middestad van Kaapstad. Foto: Adrian de Kock

Dit was glo die gevolg van beslaglegging op etlike taxi’s deur verkeersbeamptes en wetstoepassers van die Kaapse metroraad.

Volgens taxibestuurders is hulle in opstand oor volgehoue optrede teen hulle, waaronder verkeersboetes en hul voertuie wat voortdurend voorgekeer en deursoek word.

Klippe is aanvanklik op Sir Lowryweg tussen Russelstraat en Tennantstraat in die Zonnebloem-gebied gegooi en later die dag weer langs Borcherds Quarryweg op die N2.

Maxine Bezuidenhout, verkeerswoordvoerder, sê dat taxibestuurders Vrydagaand langs Borcherds Quarryweg saamgedrom het en verdere vertragings veroorsaak het.

“Die polisie en metropolisie is uitgeroep. Teen laatmiddag is geen strate gesluit nie, maar daar was ’n groot polisieteenwoordigheid in die gebied.”

Vrydagmiddag laat het die verkeer weer in die meeste strate gevloei.

Verkeer op die N2 is tot stilstand gebring deur taxi’s wat die pad versper het. Foto: Verskaf

“Die verkeer het vroeër teen ’n slakkegang uit die middestad beweeg. Motoriste op die N2 en die M5 is almal erg geraak,” het sy gesê.

Volgens Bezuidenhout was Nelson Mandela-boulevard geblokkeer by Searlestraat, en die N2 (uitgaande) by Raapenbergweg is deur taxi’s versper.

“Christiaan Barnard-straat was gesluit in albei rigtings tussen Hertzog-boulevard en Tennantstraat. Die strate is egter weer oopgestel.”

Bezuidenhout sê motorbande is ook op die N2 (uitgaande) naby die Bhungalaan-afrit aan die brand gesteek en die linkerbaan is gesluit.

Die stad kon nie bevestig of die protesaksie naby Langa deel was van die taxibetoging nie.

Angus McKenzie, voorsitter van die stad se vervoerkomitee, het wetstoepassers se optrede teen die taxibestuurders verwelkom.

“Ons moedig verkeersbeamptes aan om voort te gaan met die toepassing van die wet en genadeloos te wees teenoor diegene wat ons paaie op ’n oneerbiedige manier gebruik en pendelaars in gevaar stel.”

Hy sê dat die stad nie gyselaar gehou sal word nie en dat onwettige betogings deur taxibestuurders nie geduld sal word nie.

Meer oor:  Motorbande Gebrand  |  Klippe  |  Paaie  |  Taxibestuurders  |  Motoriste  |  Spitsverkeer  |  Bestook  |  Verkeerschaos  |  Verkeer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.