Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Moyhdine het sy seuntjie alleen by hospitaal gelos

Moyhdien Pietersen was twee jaar en vyf maande oud toe hy die aand van 15 Junie 2001 die laaste keer deur sy pa, Moyhdine Pangarker (55), aangerand is.

Moyhdine Pangarker Foto: Verskaf

Hy is daardie aand tussen 18:00 en 19:00 in die Delft-daghospitaal op die Kaapse Vlakte dood.

Nadat hy besef het daar is iets ernstig fout met sy naamgenoot, het Pangarker hom in ’n jas toegedraai en ’n man in die straat gevra om hulle na die daghospitaal te bring.

Daar het hy sy kind gelos en soos mis voor die son verdwyn.

Die grusame besonderhede van Moyhdien Pietersen se dood is vervat in dokumente wat deel is van die hofrekords van die saak waarin sy pa in 2008 aan ontvoering, kindermishandeling en strafbare manslag skuldig bevind is.

Pangarker is aanvanklik van moord aangekla, maar die hof het aan die staat gesê daar is nie genoegsame bewyse om te kan sê dat hy bedoel het om sy kind dood te maak nie. Hy is toe aan strafbare manslag skuldig bevind.

Pangarker se destydse meisie, Elsabe van Houten, het onder meer getuig Pangarker het Moyhdien reeds die aand van 20 April 2001, nadat hy die seun uit sy ma, Rosetta Pietersen, se sorg in Ladismith ontvoer het, die eerste keer aangerand.

Hy het die kind met ’n lyfband oor sy boudjies geslaan.

Van Houten het getuig hulle het daardie aand uit Ladismith na Kaapstad met Moyhdien geryloop.

Luidens die klagstaat het hy die kind tussen April 2001 tot en met sy dood herhaaldelik met ’n lyfband of met die plathand geslaan. Die seun is ook gereeld teen die kop geslaan en die mishandeling was so erg dat dit “tot die algemene benadeling van die kind gelei het”.

Van Houten het getuig dat Pangarker die seun die aand van sy dood geslaan het omdat hy gehuil en gekla het dat hy honger is.

“Hy het hom agter sy nek gegryp, opgelig en herhaaldelik met kragtige houe op sy sitvlak en bene geslaan.” Hy het daarna sy lyfband afgehaal en Moyhdien herhaaldelik daarmee oor sy laerug geslaan.

Die seun het weens die houe geval en sy broek natgemaak, het sy getuig.

Van Houten het ook getuig dat sy Pangarker gesoebat het om op te hou om die kind te slaan. Hy het egter gedreig dat hy haar sou vrek maak as sy elke keer inmeng as hy met die kind praat.

Die aand wou Moyhdien nie die suikerwater en stukkie brood wat sy hom gegee het, by haar neem nie.

Hy het volgens Van Houten se getuienis in ’n ander rigting gekyk en kon ook nie reg loop nie.

Toe sy hom vra of hy wil gaan slaap, het Moyhdien self op die bed geklim en met sy arm onder sy maag gevou op sy maag gaan lê.

Sy het later vir Pangarker gesê die seun lê nie reg nie. Toe hulle hom omdraai, het hulle gesien sy lippies is blou. Pangarker het hom in ’n jas toegedraai en na ’n man met ’n geel motor gehardloop en gevra om hulle na die Delft-daghospitaal te neem.

Dit was aand, maar nog lig. Moyhdien is om 18:45 dood verklaar.

Pangarker is uiteindelik in Maart 2003 in Ladismith in hegtenis geneem en is ná ’n lang hofsaak in April 2008 skuldig bevind.

Pangarker het Vrydag in die landdroshof in Goodwood op aanklagte van ontvoering en moord verskyn.

Die aanklagte hou verband met die ontvoering en dood van Tazne van Wyk (8) van Clarestraat, Connaught Estate. Die saak teen hom is tot 17 April vir verdere ondersoek uitgestel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.