Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Moyhdine Pangarker ná langer as ’n jaar vasgetrek

Dié foto van Moyhdine Pangarker het Dinsdag die ronde gedoen nadat die nuus uitgelek het dat hy in hegtenis geneem is. Foto: Verskaf

’n Man wat die polisie langer as ’n jaar ontwyk het nadat hy sy paroolvoorwaardes verbreek het, is uiteindelik  in Cradock vasgetrek. 

Moyhdine Pangarker (54) is Maandagaand in die Victoria Hotel in ’n polisielokval gelei en in hegtenis geneem.

Hy het Dinsdagmiddag in die plaaslike landdroshof verskyn op ’n aanklag wat met die verbreking van sy paroolvoorwaardes verband hou en sal na verwagting binnekort na Kaapstad geneem word. 

Die polisie het hom onlangs geïdentifiseer as iemand wat in die ondersoek na die verdwyning van Tazne van Wyk (8) in Elsiesrivier in Kaapstad vroeër vandeesmaand kan help. Bronne vertroud met die ondersoek het Dinsdag gesê die polisie het sy spoor verlede week in Kimberley in die Noord-Kaap opgetel.

Hy het hier glo by verskeie moskees in Galeshewe omgegaan en geld gebedel. Hy is daarna glo vort na Colesberg, sowat 280 km verder. Hier het hy die polisie glo weer ontglip en na Cradock, sowat 200 km verder, gevlug.  

Pangarker is Maandag omstreeks 22:15 in hegtenis geneem nadat hy glo ’n vrou wat in die hotel tuisgegaan het, wou besoek. ’n Bron in Cradock sê die ondersoekbeampte in die Tazne-saak, speursers. Clinton Franks, was Maandag reeds om 10:00 by die hotel.

“Ons vermoed die vrou het hulle laat weet dat hy na haar toe gaan kom en dat sy as lokaas gebruik is.” 

Die polisie het toegeslaan en Pangarker in hegtenis geneem, het die bron gesê. Kapt. Lariane Jonker, ’n polisiewoordvoerder van Cradock, het sy inhegtenisneming bevestig. 

Die departement van korrektiewe dienste se woordvoerder, Singabakho Nxumalo, het verlede week gesê dat ’n lasbrief in Februarie 2019 vir sy inhegtenisneming uitgereik is nadat hy sy paroolvoorwaardes verbreek het.

Pangarker moes ook op 6 Februarie vanjaar in die landdroshof in Worcester verskyn het, maar het nooit by die hof opgedaag nie. 

Jonker het die gemeenskap in ’n verklaring gevra om Tazne te help opspoor.

Sy het op Vrydag 7 Februarie verdwyn en is laas gesien toe haar pa haar na ’n winkel naby hul huis in Connaught Estate, Elsiesrivier, gestuur het.  


Hierdie foto is een van die laaste foto’s wat Tazne van Wyk se ouers van haar het. Foto: Verskaf

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.